Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Chaos by Huis Cummings

Chaos by Huis Cummings
 
2008-05-15

Lise Beyers

PANDEMONIUM het Maandagnag losgebars by Hugenote Kollege, toe 72 studente vir hul lewens gevlug het uit ’n vlammehel.

Studente in die geskiedkundige Huis Cummings is omstreeks middernag uit hul beddens geskud deur paniekbevange gille, toe ’n brand op die boonste verdieping van dié gebou uitgebreek het.

Hulle het sonder hond of haar die koue van die nag ingevlug.

Binne oomblikke het Huis Cummings se boonste verdieping in ’n vlammehel ontaard en die kenmerkende spitsdakke is vinnig verwoes.

’n Woordvoerder van die brandweer het gesê dat die brand baie vinnig versprei het weens die hoeveelheid hout - van die vloere, plafonne en afwerking van die historiese sandsteen- en granietgebou.

Terwyl die brand versprei het en die ruite gebreek het, het talle Wellingtonners in hul nagklere na die terrein gestroom om die tragiese skouspel gade te slaan.

Studente het verslae rondgestaan terwyl hul besittings deur vlamme verteer word.

Een van die studente, Alviera Samson, ’n finale jaar jeugwerkstudent, het vertel van die vrees van dié nag. Haar kamer was op die boonste verdieping en sy het byna al haar aardse besittings verloor.

“Ek het wakker geword en gehoor hoe iemand gil, “brand.” Ek het byna sonder om te dink net my selfoon en sleutels gegryp en na veiligheid gevlug.

“My skootrekenaar, klere, yskas, televisie, asook al my studieboeke en notas het in die slag gebly. Maar ek is tog baie bly dat ek en my vriende ongedeerd van die voorval ontsnap het.”

Terwyl studente in die koue gestaan het, het talle lede van die gemeenskap hulle met komberse en warm drankies ondersteun.

Sowat 30 brandbestryders het deurnag gewerk tot Dinsdagmiddag om die vlamme te blus en te verseker dat die brand nie weer opvlam nie.

Die boonste verdieping van Huis Cummings is totaal en al verwoes en die ander vlakke lei erg aan waterskade, weens die duisende liters water wat gebruik is.

Talle antieke meubels is uit die brand gered, maar verskeie ware is wel beskadig.

Dinsdagoggend is die studente deur die rektor, prof Johan Viljoen, toegespreek om vir hulle riglyne te gee oor wat die direkte toekoms vir hulle inhou.

Gister sou studente met hul eksamens begin het, maar weens die verlies aan studiemateriaal, sowel as die trauma waarmee studente gelaat is, sal die eksamens tot verdere kennisgewing uitgestel word.

Alternatiewe verblyf is vir al die studente gevind by ander koshuise en woonplekke. Traumaberading is deur personeel van die kollege aan studente gebied.

Huis Cummings is een van die eerste geboue van die Hugenote Kollege wat in die laat 1800’s gebou is. Dit was nog altyd beskou as ’n besonderse gebou en van historiese argitektoniese belang.

Maar die kollege is vasbeslote dat Huis Cummings wel tot sy vorige glorie herstel sal word.

’n Rampfonds is gestig om die studente by te staan wat hul besittings verloor het, asook vir die herstel van die gebou.

Bydraes kan gemaak word by Standard Bank, Wellington-tak 050710 rekeningnommer 076998223.

* An historical building of Wellington has been destroyed by a raging fire.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za