Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Klubkampioenskappe wink vir Wellington

Klubkampioenskappe wink vir Wellington
 
2005-06-30


DIE onstuitbare eerste span van Three Ships Wellington Rugbyklub het Saterdag sy onoorwonne status in die Boland se Superliga A behou toe hy 46-3 oor Robertson gestoomroller het.

As die Wellingtonners slegs een punt in hul oorblywende vyf wedstryde verdien, sal hulle buite die bereik wees van enige van die ander spanne in die liga.

Dit blyk ook ’n uitgemaakte saak te wees dat Wellington, wat tans die ligavoorlopers is met 64 punte, die Boland by vanjaar se klubkampioenskappe in Port Elizabeth sal verteenwoordig.

Die Wellingtonners het Saterdag op hul tuisveld agt drieë ingeryg in hul slagting van Robertson.

Du Toit Swart (2, heelagter), Riaan Nel (2, losskakel), Piet Myburgh (2, slot), Mark Bain (vleuel) en Frankie Horne (flank) het in die doelgebied gaan kuier.

Nel was ook suksesvol met drie doelskoppe.

Die besoekers kon slegs met ’n strafskop deur Donovan Smith
antwoord.

Agt drieë per wedstryd is terloops die gemiddeld waarmee die Wellington-klub dié seisoen spog.

Die Wellingtonners het vanjaar 514 punte aangeteken en slegs 169 afgestaan vir hul 64 ligapunte en slegs hul eerste wedstryd van die seisoen (teen Darling) nie met ’n bonuspunt gewen nie.

Die voorlopers se naaste teenstanders is Delicious met 47 punte, gevolg deur Roses United (38), Villagers Worcester (36), en Darling (35).

Kyk mens na die twee boonste spanne se punteverskil plaas dit Wellington se vertoning in perspektief.

Delicious het ’n punteverskil van 40 terwyl Wellington met ’n astronomiese 345 punteverskil spog.

“Ons doelwit is om soos verlede jaar weer die seisoen onoorwonne af te sluit,” het Wellington se klubvoorsitter, Dolf Stemmet, Maandag gesê.

“Ons gaan volgende week ’n groep van 30 spelers kies wat fiksheidstoetse sal doen met die oog op die klubkampioenskappe. Daarna sal ’n span van 25 aangewys word,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die span se uitblink-heelagter, Louw Schabort, tans sukkel met geskeurde knieligamente, maar dat hy oor drie weke weer vir die klub in aksie sal wees en ook dus vir die klubkampioenskappe in aanmerking kan kom.

Hoewel hy die gebrek aan diepte in die voorry- en slot-posisies as ’n probleemarea uitgelig het, het Stemmet beaam dat sy span oorgehaal is om vanjaar sy status by die kampioenskappe te verhoog.

“Natuurlik mik ons om te wen. Ons het verlede jaar vir die Top Agt gekwalifiseer, so ons sal vanjaar teen sterker kompetisie te staan kom. Ons mikpunt is om te verbeter op ons agtste posisie van 2004.”

Aangesien ’n agtergeblewe span in Superliga A1 ook vanjaar die kans staan om in die klubkampioenskappe te speel, gaan dit omtrent ’n stryd afgee tussen die spanne van Delicious, Worcester Villagers, Roses United en Darling.

Die span wat dus die tweede plek in die liga kan beklee, sal hul tasse vir die Baai pak.

Roses United het Saterdag ’n naelskraapse 22-18 oorwinning oor Saldanha behaal.

Dit was Roses se agtste sege in 13 wedstryde.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za