Jaar van tale gevier by museum
2008-05-15
SKOOLBESOEKE aan die Taalmuseum is beide opvoedkundig én pret. Só sê Esther van Heerden, opvoedkundige beampte van dié museum in die Paarl, wat vanjaar ’n spesiale reeks opvoedkundige programme aanbied ter viering van die Internasionale Jaar van Tale. Vanjaar is daar ’n Ongelooflike Resies om na uit te sien, asook drama-aanbiedinge, kreatiewe skryfsessies en die jaarlikse Erfenisdagvieringe. Van 28 tot 30 Mei, in Museummaand, word die Ongelooflike Resies-speletjie vir graad 7-leerders aangebied. Die speletjie is gebaseer op die uitstallings van die Taalmuseum en Paarl Museum en deelname is gratis. Op 12, 13 en 14 Augustus sal ’n spesiale Taalweekprogram plaasvind vir graad 8- en 9-leerders, met ’n aanbieding deur studente van die Dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch. Ter viering van Internasionale Geletterdheidsdag word gratis kreatiewe skryfsessies vanaf 9 tot 11 September vir graad 9- en 10-leerders aangebied, in samewerking met die US Opvoedkunde fakulteit. Deelnemers moet moedertaalsprekers van Afrikaans wees met ’n lewendige belangstelling in skryf. Opvoeders kan nou reeds bespreek vir die museum se Onderwysersdag op Woensdag 22 Oktober. Skole kan twee afgevaardigdes stuur om dié bederfgeleentheid by te woon. Skakel Esther van Heerden by 021-872-3441.
More
News
|