Kavaliers lek lippe af vir Leeus in eerste tuisstryd
2005-06-30
DIE ys is gebreek. Die Boland Kavaliers het hul eerste Curriebekerwedstryd van die jaar agter die rug.
En ondanks die feit dat hulle 37-23 (22-16) teen die Natalse Haaie in Durban verloor het, weet die Wellington-span wat daar nou vir hom in die komende reeks wag.
“Ons het verbasend goed teen hul pak voorspelers gevaar. Ek dink die feit dat die manne nou weet wat op hulle wag en watter standaard van rugby hulle te wagte kan wees, het heelwat gedoen om hul selfvertroue te versterk,” het die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, vandeesweek gesê.
Gebrekkige hantering het Boland die wedstryd gekos terwyl die verkeerde besluite ook die span se poging om die reeks met ’n sege af te skop, gekelder het.
“Ons verdediging is ook op peil behalwe vir ’n paar sagte drieë wat afgestaan is, maar dit was maar weens die bal wat verkeerd spring,” het Pienaar gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle ook die beseerde losskakel, Solly Goosen, se koelkop onder druk en goeie stelskopwerk (drie stelskoppe is binne trefafstand verbrou) gemis het.
Die afrigters het gistermiddag laat nog kop gekra oor die span wat hulle vir Saterdag se kragmeting teen die Goue Leeus op Wellington in die veld moet stoot.
Die span was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Die wedstryd skop om 15:30 af op die Boland Stadion. Toegang is R20, R30 vir hoofpawiljoensitplekke en gratis vir skoliere. Kaartjies is beskikbaar by alle Shoprite/Checkers takke.
In ’n voorafwedstryd sal die Boland Vrouespan teen hul eweknieë van die Oostelike Provinsie te staan kom.
More
News
|