Taai Tiere trap vas
2005-06-30
DIE gekombineerde Young Peoples/Albions rugbyspan het nou wel Saterdag 36-24 in hul feeswedstryd teen Tygerberg Rugbyklub vasgeval, maar hul goeie vertoning spreek duidelik van watter voordeel ’n gekombineerde Paarl-span vir die dorp kan inhou.
Die tuisspan, wat slegs twee oefensessies vooraf gehad het, het aanvanklik met sy samespel gesukkel in die wedstryd wat op Faurestraat Stadion gespeel is. Die besoekers het dit uitgebuit en die pas van die wedstryd tot hul voordeel bepaal.
Die koel en berekende wyse waarop hulle die basiese dinge uitgevoer het, het getuig hoekom Tygerberg een van die gerekende spanne in die WP se Superliga A is.
Die besoekers het ook die skrums oorheers en die Paarliete moes deurentyd met skrapse balbesit tevrede wees.
Die plaaslike span het egter nogtans bewys dat hulle met ’n bietjie meer oefening, beslis met die beste spanne in die WP sal kan saamgesels.
Die heelagter Elroy Roberts was Tygerberg se groot uitblinker. Sy 21 punte het twee drieë, ’n strafdoel en vier doelskoppe ingesluit. JJ Fredericks (flank), Morné Adams (skrumskakel) en Ryan Sawat (vleuel) was die besoekers se ander driedrukkers.
Die tuisspan se drieë is deur Japie Josephs (stut), Alvin Hugo (vleuel), Roderick Allies (slot) en Cedric Williams (haker) gedruk. Losskakel, Jacques Hendricks, was in die kol met drie doelskoppe.
More
News
|