’n SPESIALE brug wat aanvanklik nie beplan is nie, is deel van die 24-uur Total diensstasie wat in Julie sy deure digby die Paarl Mall gaan open.
Die projek kos reeds R2,5 miljoen meer as wat beplan is.
Die diensstasie, met ’n Bonjour gerieflikheidswinkel, ’n kitskoswinkel en ’n motorwas-fasiliteit, gaan 115 000 liter brandstof berg. Vyf opgaartenks is op die perseel ingerig.
Die brug is opgerig om petrol tenkwaens makliker toegang tot ondergrondse opgaartenke te gee. Dié brug is ook byna voltooi.
“Dit is alleenlik vir die tenkwaens bedoel en sal deur ’n valhek gesluit word,” sê Vernon Scott, terreinbestuurder van Bambana Management Services, wie die oprigting van die diensstasie behartig.
“Indien niks onvoorsiens gebeur nie, sal die projek in Julie voltooi wees, waarna die deure sal open,” sê hy.
Ons het genoegsame krag op die perseel sodat die werk kan aangaan en ontvang baie goeie diens van die munisipaliteit,” sê hy.