Werkersklas aan kortste end in swaarkry-tye 2008-05-22
INDIEN eienaars, bestuurders, direkteure en al die belangrike belanghebbendes in die topbestuur van enige produksielyn synde melk, brood, papier, meubels, bande, motors, en wyn minder gulsig is, kan dit beter gaan met die gewone werkersklas in ons land.
Indien hulle hul eie vermoëns bietjie meer beskeie skat in rand en sent kan die werkersklas baat.
Kan hulle nie met meer empatie dink aan diegene aan die onderpunt wat dit moontlik maak om die wiel aan die rol te hou en die groot base dus help aan hul fortuin in die vorm van strandhuise, luukse motors en vakansies te bekom nie.
Is dit nie ’n skande dat mynwerkers in lewensgevaar moet swoeg teen ’n hongerloon sodat een amptenaartjie, sonder tersiêre opleiding, ’n jaarlikse bonus van R140 000 kan kry nie?
Nader aan ons. Die groot kanonne van die wyn-, graan- en melkbedryf se meer as 3 miljoen per jaar?
Van dié here se beskeie pakkette is selfs meer as dié van ons huidige of vorige staatspresidente.
Sou ek waag om te sê al is laasgenoemdes se bestuurstyl ook nie altyd na wense nie, is hulle darem vir veel meer verantwoordelik?
As die hoogsbesoldigdes bereid is om ’n bedrag van enigiets tussen 10% tot en met 50% van hul maandelikse vergoeding af te staan, kan dit afgewentel word.
Dit kan dan gaan na die laer besoldigdes sonder wie se arbeid hulle in elk geval 0% per maand sal verdien.
Dan kan almal in hierdie land ’n leefbare salaris verdien.
Suid-Afrika wat roem op Christelikheid, menseregte, gelykheid voor die wet en wat nog meer, kan ’n voorbeeld word vir die res van die wêreld.
Dan hoef die regering nie te bedel by die buiteland en allerhande maniere te bedink om inkomste te genereer nie.
Is dit nie wat verdeling van rykdom, gepoog deur die regering, maar eintlik is nie?