Polisie slaan boerpot by smokkelhuis
2008-05-22
’n MOONTLIKE sindikaat wat handel dryf met gesteelde goedere, is vandeesweek oopgevlek tydens ’n klopjag op ’n woning in Bonapartelaan, Klein Parys. Hierdie klopjag vorm deel van die polisie se aksie, Operasie Tiba, om hok te slaan op die handel in gesteelde goedere. Die voorval het begin by die diefstal van ’n televisiestel by ’n bekende toebehore-kettingwinkel in die Paarlse middedorp. Die polisie is deur die bestuur van die winkel genader om die saak te ondersoek. Nadat ’n verdagte ondervra is oor die gesteelde televisie, het hy gebieg dat hy die televisie by ’n huis in Klein Parys afgelaai het. Lede van die polisie het verder ondersoek ingestel en nadat hulle toegang tot die huis geweier is, is ’n lasbrief bekom om die perseel te deursoek. Hier het hulle die boerpot geslaan, toe daar afgekom is op ’n groot hoeveelheid hoëtroustelle. Die huisbewoner, eienaar van ’n drankwinkel en kroeg in die middedorp, kon geen bewyse lewer van eienaarskap van die goedere nie. Die items is almal splinternuut en daar word vermoed dat dit gesteel is. Daar is beslag gelê op al die goedere en die verdagte staar nou aanklagtes van handeldryf met gesteelde goedere in die gesig. Die ondersoek duur voort. Enigiemand wat inligting het oor soortgelyke gevalle, kan die inligting vertroulik oordra aan insp Hildegard Mackier by 021-807-4000. * Paarl police confiscated a large amount of suspected stolen goods from a house in Klein Parys.
More
News
|