Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Middedorp se toekoms in sak en as

Middedorp se toekoms in sak en as
 
2008-05-22

Lise Beyers

PAARLIETE was die afgelope week geskok met die nuus dat Dis-Chem apteek, beter bekend as Westerman’s, sy deure na tagtig jaar gaan sluit.

Hierdie tak van Dis-Chem sal môre vir oulaas klante ontvang, maar daarna sal hul besigheid voortgesit word by Dis-Chem in die Paarl Mall.

Harry Westerman het in 1928 hierdie apteek in Lady Grey- ­straat geopen. In daardie jare was daar ’n wamakersonderneming oorkant die straat.

In 1956 het Selwyn Sterling vir Westerman’s begin werk, en in 1973 het hy die besigheid oorgeneem.

Kevin Sterling het gesê dat die besluit om die onderneming in die middedorp met die tak in die Paarl Mall saam te smelt, suiwer ’n besigheidsbesluit was.

“Dié besluit was baie moeilike, aangesien die Lady Greystraattak is waar ons familiebesigheid oorspronklik begin het.

“Ons het na alle alternatiewes gekyk, maar dit was vir ons duidelik dat besigheid na die Paarl Mall beweeg.”

Baie van die 40 personeellede van dié apteek sal by die Mall gaan werk, terwyl die ander geleenthede gebied is by ander Dis-Chemtakke.

Dit is die einde van ’n era wat aangebreek het vir Paarliete, en dit word ook beskou as nog ’n spyker in die middedorp se doodskis, meen dorpenaars.

Ander ondernemings wat onlangs hul deure gesluit het, maar steeds by Paarl Mall voortgaan met hul besighede, is Sassi kledingswinkel en The Excitement Store.

Franz Jewellers sal ook binnekort na die Mall verhuis en daar is sprake van groothandelaars soos Woolworths en Pick ’n Pay in die middedorp, wat gaan afskaal. Click’s se naam word ook genoem as ’n slagoffer van die verval van die middedorp.

Sakemanne is baie bekommerd oor dié stand van sake. Daar is ’n algehele gevoel van verval, en redes hiervoor is die toename van smouse, ’n tekort aan parkering en ’n algemene gevoel van onveiligheid.

“Die middedorp van talle dorpe dwarsoor Suid-Afrika het reeds verval weens wanorde,” sê ’n winkeleienaar.

“Dieselfde is besig om hier te gebeur, en ek het die afgelope drie jaar opgelet hoe my gereelde kliënte net verdwyn. Die middedorp het dalk die voete, maar die koopkrag het weggetrek.”

Winkeliers stem saam dat as die smouse weggeneem word, sal dít alleen, reeds die beeld van die middedorp herstel.

“Behalwe die feit dat mense op party plekke sukkel om te loop op sypaadjies weens die smouse, parkeer talle van hulle hul motors in parkeerareas wat vir kliënte bedoel is.

“Die gemors wat hulle ook aan die einde van die dag agterlaat, is vieslik. Baie van hierdie smouse is onwettige immigrante en dit self is ’n plofbare situasie.”

Die kwessie van smouse word keer op keer opgehaal.

Munisipale wetstoepassers sou ’n geruime tyd gelede hulle verskuif na aangewese staanplekke vir smouse.

Die polisie is gevra om die wetstoepassers te help met die verskuiwing, maar op die nippertjie het die munisipale owerhede dié operasie stopgesit.

“Die munisipaliteit verbreek hul eie wette wanneer hulle ’n blinde-oog draai teenoor die smouse,” kla sakemanne.

Smouse moet aansoek doen om permitte om handel te dryf, maar dit word nie afgedwing nie.

En van die veel besproke sentraal Paarl stedelike vernuwingsprojek, is daar niks meer te hore nie. Alhoewel ontwikkelaars gereed staan om werk te maak hiervan, sloer die munisipaliteit met hersonering.

Hierdie projek beteken ’n totale opgradering van die middedorp, wat ook die verskuiwing van smouse sal insluit.

“Al gaan hierdie opgradering in die toekoms voort, gaan dit dalk te laat wees,” sê sakelui.

“Die koopkrag het reeds die dorp verlaat en ons sal hulle nie maklik terugkry nie.”

Intussen floreer besigheid by die Paarl Mall.

Bestuurder Lisa de Boer meen dat Woolworths en Pick ‘n Pay reuse verkope toon.

“Daar is planne vir die ontwikkeling van nog ’n sentrum aangrensend aan die Mall, vir grootskaalse kleinhandelaars. Met die aanhoudende groei van die Mall, word daar gekyk na ’n vermaaklikheidsentrum.”

En, erken middedorp sakemanne, hoe sterker die Mall groei, hoe donkerder raak die toekoms van die middedorp.

* The closing of Dis-Chem in Lady Grey Street is another nail in the coffin of the Paarl CBD.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za