Wellington wen wipplankstryd
2008-05-22
IN ’n titaniese rugbywedstryd tussen die tuisspan, Wellington, en Ceres, het Wellington daarin geslaag om net-net met 23-20 die knoop deur te haak. ’n Strafdoel deur die losskakel, Nicus Bergh, was aan die einde van die wedstryd die verskil tussen die twee spanne. Wellington het eerste punte aangeteken toe Bergh met ’n strafskop na die pale geslaag het. Kort daarna het Ceres se losskakel, Ettienne Duvenhage, die telling gelykop gemaak met ’n strafdoel. Na nog twee strafdoele, een deur Duvenhage en een deur Bergh, het Ceres die ys gebreek met ’n drie kort voor rustyd. Duvenhage het die vyfpunter verdoel om aan die besoekers ’n voorsprong van 13-6 te gee. Ná rustyd het Wellington se voor- en agterspelers beter begin kombineer en Pieter Brynhardt (haker) het oor die doellyn gebars vir ’n drie. Bergh het die drie verdoel om sy span gelyk te laat trek met 13- elk. Ceres het egter hierop teruggeantwoord met ’n verdoelde drie, waarna Wellington in die laaste 10 minute verwoed moes aanval om ’n oorwinning te beklink. Na volgehoue druk het die staatmaker skrumskakel, Marnus Hugo, ’n drie gaan druk wat deur Bergh verdoel is om die twee spanne weer gelyk te laat trek (20-20). In die laaste minute van die wedstryd het Bergh met ’n lang strafskop na die pale geslaag om aan Wellington ’n 3-punt oorwinning te verseker. In ander wedstryde het Wellington II die voorlopers, Ceres II, met 40-13 verslaan, terwyl Wellington III met 17-19 vasgeval het teen Ceres III.
More
News
|