Paarl Rugby trap Albions
2008-05-22
PAARL RUGBYKLUB het Saterdag op Faurestraat-stadion harder geswoeg as wat die telling weerspieël om sy derby- wedstryd teen Albions met 33-20 te wen. In ’n wedstryd, wat net nie aan die gang kon kom nie, het beide spanne gesukkel om balbesit te behou en punte aan te teken. ’n Oor en weer gestamp- en stotery het ook bygedra tot ’n paar geelkaarte in die wedstryd. Met beide spanne wat baie foute gemaak het, was dit Paarl se losskakel, Clive Samuels, wat die verskil gemaak het met goeie oordeel. Samuels, wie verlede jaar lid was van die suksesvolle WP Diza-span, het met drie doelskoppe, drie strafdoele en ’n skepskop na die pale geslaag. Vir Albions het Alfredo Adams goed vertoon ná hy vir die eerste keer weer in aksie was ná ’n besering. Die binnesenter, Ashley Manuel, was Albions se agterspeler wat verantwoordelik was vir die meeste van Paarl se kopsere. Saam met Manuel het Jenovan Cornelissen en Denver Jacobs elkeen ’n drie gedruk. Curtley Davids het geslaag met ’n doelskop en ’n strafdoel. Behalwe vir ’n strafdrie is Paarl Rugbyklub se drieë gedruk deur Randall Pietersen en Llewellyn Davids. Paarl se tweede span het Albions II met 22- 16 geklop. Paarl III het 5 drieë ingeryg in sy oorwinning van 35-0 oor Albions III. In wat as nog ’n hoogtepunt van die naweek beskou kan word, het Paarl se o.20’s vir UCT se o.20’s met 13-5 geklop. Goeie verdediging en goeie ondersteunende spel was net te veel vir die Kaapse studente. Paarl speel Saterdag tuis teen Elsiesrivier. * Albions speel Saterdag weg teen Brackenfell. Die bus vertrek om 11:35 vanaf Simfoniestraat 187.
More
News
|