Kunsvereniging. Indien u belang stel om ’n lid van die Kunsvereniging te word, word u aangemoedig om aan te sluit teen R50 per jaar. U sal elke maand ’n nuusbrief ontvang, uitgenooi word na werkswinkels en as ’n lid van die vereniging ook deelneem aan ’n groepuitstalling in September. Vir navrae, skakel Desiree Malan by 082-862-3649 of George Meyer by 073-390-1517.
Operette. Chris Vorster en Diaan Lawrenson (Rhyno en Paula van 7de Laan) tree môre op in ’n operette, Dirk en Lindie, by die HB Thom Teater in Stellenbosch. Dirk Le Waal en Lindie Lief is tipiese Afrikaanse sangers - Dirk se ego maak beloftes wat sy talent nie kan nakom nie en Lindie kan nie haar pad uit ’n skoendoos sing nie. In hierdie satiriese operette word daar skelmpies geluister deur die kleedkamervenster na ’n versie uit die Afrikaanse musiekbedryf en lieg sommer ’n refrein by vir dramatiese effek. Besprekings by Computicket.
Poësieskryfskool. Digters kan deelneem aan die Litnet/Sanlam SkryfNet-poësieskryfskool Vrydag en Saterdag by die Breytenbach-sentrum op Wellington. Koste is R500 en sluit in etes en verblyf vir een nag. Vir oud-deelnemers is dit R300.
Pianis-optrede. Die wêreldbekroonde, Suid-Afrikaansgebore pianis Anton Nel, sal Saterdag om 20:00 in die Endler-saal op Stellenbosch optree. Kaartjies is R90 (R70 pensionarisse en studente) en is by Computicket beskikbaar of skakel 083915-000.