KWV wil besnoei
2005-06-30
SOWAT 100 werknemers van KWV Suid-Afrika, die produksie-afdeling van KWV, sal teen vandag weet of hulle hul poste gaan verloor, weens voorgestelde herstrukturering van die maatskappy.
Vir die tweede keer in vier jaar het werknemers briewe ontvang dat hulle opnuut aansoek moet doen vir hul poste en moet aandui of hulle uittreepakkette (twee weke per jaar diens) sal aanvaar.
In 2001 is sowat 80 mense afgedank en verlede jaar is nege werkers ontslaan by die konsentraat-aanleg op Vredendal. Veral die konsentraatbedryf, wat hoofsaaklik vir uitvoer bestem is, is erg geraak deur die sterk rand.
Volgens woordvoerder Niel van Staden is KWV tans in ‘n konsultasieproses met sy werknemers as deel van die voorgestelde herstrukturering “wat gedryf word deur die feit dat kompeterendheid, winsgewendheid en effektiwiteit verbeter moet word.”
Die maatskappy se verkope word geraak deur die versterking van die rand, wat ‘n negatiewe uitwerking op hul uitvoere het.
“Die konsultasieproses word deur die KVBA gefasiliteer en voldoen aan alle wetlike voorskrifte.
“Die voorgestelde herstrukturering mag moontlik 104 van die 575 werknemers affekteer, maar aangesien die maatskappy nog in die konsultasieproses is, is geen strukture nog gefinaliseer nie.”
Sowat 70% van die mense wat hul poste kan verloor is in die laer posgrade (19-15). Dit is veral die Paarlse aanleg wat geraak word.
Werkers van die Fruit & Allied Workers Union (Fawu) het vandeesweek hul ontevredenheid te kenne gegee deur etensuurproteste by die maatskappy se kelders te Paarl, Worcester, Robertson en Upington.
Werkers verwerp die beoogde herstrukturering omdat dit “nie deursigtig is nie” en omdat die sustermaatskappy, KWV Internasionaal, nie geraak word nie.
Daar word beweer dat die herstrukturering ‘n “rookskerm” is omdat dit nou tyd is vir die jaarlikse loononderhandelings.
Hulle is boonop ontstoke dat herstrukturering oorweeg word binne ‘n jaar nadat die maatskappy swartbemagtiging toegepas het.
Werkers het nou ‘n 27% aandeel in KWV se swartbemagtigingsvennoot, Phetogo (dus ‘n 6,7% aandeel in KWV).
Volgens Van Staden sal herstrukturering geen uitwerking hê op die aandele nie omdat dié belang deur ‘n werkerstrust gehou word en individuele werkers nie aandele besit nie. Een van die vereistes om aan die trust te behoort, is om by die KWV te werk.
Kritiek word ook uitgespreek omdat die KWV wil rasionaliseer enkele weke nadat die Katedraalkelder onlangs ten duurste opgradeer is.
Volgens Van Staden was die opgradering ‘n besigheidsbesluit wat gedryf is deur produksievereistes aan die een kant, en die behoefte om ‘n tuiste te skep vir die Cathedral Cellar handelsmerk aan die ander kant.
“Die Katedraalkelder is ingerig om toekomstige besigheidsgroei te akkommodeer, veral in terme van kleinhoutveroudering.
"Die inrigting van die kelder was gemik op die inname van die 2005 rooiwyne.”
More
News
|