DIT is ‘n uitgemaakte saak dat Table Bay Spinners sy deure na 54 jaar gaan sluit. Dié bekende tekstielfabriek in Wellington gaan aan die einde van Junie sy oorblywende 240 werkers sonder werk en inkomste laat.
Al wat nou vir die werkers oorbly, is die besluit van die Raad vir Bemiddeling en Arbitrasie by wie hulle vakbond gaan aanklop het.
Dit is ’n laaste poging om die fabriek se deure oop te hou.
Aanvanklik wou Table Bay Spinners, wat deel is van Courthiel Holdings, nie kommentaar lewer nie.
Werkers is moedeloos oor die situasie aangesien hulle nog geen beduidende inligting oor die moontlike aflegging gekry het nie. Sommige is reeds meer as 20 jaar in die onderneming se diens.
“Daar is alternatiewe om dié besigheid aan die lewe te hou. Ons het met onderhandeling dit al by vorige geleenthede by ander besighede reggekry.
“Table Bay Spinners sê die prys wat hulle vir hul produk kry, is te laag. Daarop dat daar verlede jaar reeds werkers afgelê is om die fabriek meer lonend te maak,” sê Gerrit Willemse, organiseerder van SACTWU in die Paarl.
“Ons het na al die alternatiewe gekyk, maar het hierdie week besluit dat dié aangeleentheid na die Raad vir Bemiddeling en Arbitrasie verwys moet word.”
“Ons is ingelig dat die afleggings in Julie sal wees waarna die fabriek sal sluit.”
Kevin Wright, groep uitvoerende direkteur van Courthiel Holdings, sê die unie is ingelig omtrent die situasie en hulle moes hul lede inlig.
“Dit is ’n hartseer dag vir ons om die fabiek te sluit. Ek kan nie begryp waarom die Raad vir Bemiddeling en Arbitrasie moet ingryp nie.
Onderhandelinge tussen dié onderneming en SACTWU is na bewering druk aan die gang.
Gerugte van ’n oorname is ter spra- ke, asook die bespiegeling dat Table Bay Spinners eersdaags onder ’n ander naam sal besigheid doen.
Werkers is sku en versigtig om oor die toekoms te gesels.
“Al wat ons weet is dat die fabriek aan die einde van Junie gaan sluit en dan sit ons op straat,” sê een van die werkers wat reeds twaalf jaar in diens van Table Bay Spinners is.
Die werkers wil glad nie hulle name noem nie, aangesien hulle vrees hulle kan voortydig in die pad gesteek word.
Table Bay Spinners, verweef in Courthiel Holdings, was ook in 2007 in die nuus nadat meer as 100 werkers hulle werk kwyt was.
Vroeër is die werkers ingelig dat die besigheid toe meer as R30 miljoen se verliese gelei het.
“Die rekeningkundige foute van verlede jaar en self voor dit, het ’n geweldige impak op die besigheid gehad, sê Kevin Wright, maar wou nie verder daaroor kommentaar lewer nie nie..
Gerugte doen nou die ronde dat dié R30 miljoen verlies toegeskryf is aan onreëlmatighede wat binne die bestuur plaasgevind het.
“Klaus Daun was baie ondersteunend en wou hê dat die fabriek nie sy deure toemaak nie.
“Ongelukkig kan ons nie die deure oophou as dit nie winsgewend is nie
“Dit is waarvoor die grootbaas van KAP, Claas Daun, bekend is,” sê gefrustreerde werkers.
“Van die destydse Oos-Duitsland tot nou in Wellington is sy bynaam nie verniet “Closing Down” nie.”