VERRE dit sy van my om die Paarl Mall af te kraak, wil ek tog die volgende onder die aandag bring.
Ek huur ’n winkel van 78m² in die Wamakersplein-sentrum in die middedorp. Daarvoor bedra die totale maandelikse huur- en ander gelde R7 171 en dit sluit BTW, dienstegelde en ’n bemarkingsfooi van R137 per maand in.
In die Paarl Mall is daar tans ’n winkel van vergelykbare grootte van 82,77m² teen ’n totale maandelikse huurbedrag van ’n verstommende R25 004 beskikbaar, maar dan moet BTW en die dienstegelde vir onder andere water, krag, sanitasie en vullisverwydering nog bykom om dan sekerlik meer as R26 000 per maand te bedra.
Dit is dus amper vier keer meer as wat ek in die middedorp betaal.
Die hoë huurgelde is dan ook sekerlik die grootste bydraende faktor tot die gereelde sluiting van ondernemings in die Mall.
Die gemiddelde reistyd na die Mall bedra 28 minute, volgens die Mall se inligting deur hul aan my verskaf en die grootste gross van die Paarl se inwoners beskik nie oor vervoer om die Mall te besoek nie.
Ten slotte, alles is darem nou ook nie net maanskyn en rose by die Mall nie, net soos wat dit ook in die middedorp nie altyd die geval is nie.
Entrepreneur, Paarl.