Onverantwoordelike optrede van bestuurder skokkend
Onverantwoordelike optrede van bestuurder skokkend 2008-05-29
EK wil graag deur hierdie medium met die ouers van die jong bestuurder van CJ 55670 kommunikeer. Sou ek weet wie hulle is, sou ek dit graag persoonlik wou doen.
Vrydagaand/Saterdagoggend (23 en 24 Mei) het dié jongman wat die bestuurder van dié Tata was, geen respek vir die voertuig of die inwoners van die woonbuurt Groenvlei getoon nie.
Die bestuurder was die aand ’n besoeker aan Foxglovestraat 8, Paarl, waar ’n samekoms van jongmense en kinders plaasgevind het.
Vanaf 23:00 het dinge begin handuit ruk.
Die bestuurder van die bogemelde voertuig, het herhaaldelik die revolusies van sy motor se masjien opgejaag tot die punt waar die masjien nie meer kon nie, en “valve bounds” die totale oorhand oor die masjien gekry het.
Dan het hy en ’n vriend dit raadsaam geag om die reeds smal strate soos Foxglove-, Van Broekhuizen- en Primrosestrate, met skreeuende bande hul resiesbaan te maak met ’n toeter wat onophoudelik gedruk word.
Geen respek vir die regte van inwoners is getoon nie, en roekeloosheid het die oorhand gekry.
So het dit aangegaan, totdat hulle met dieselfde minagting om ongeveer 01:00 Saterdagoggend met dieselfde onverantwoordelikheid en skreeuende bande vertrek het.
Nodeloos om te sê, die stopstraat by die kruising met Foxglove- en Van Broekhuizenstraat is nooit die aand gerespekteer nie.
Nadat die bestuurder en sy passasier vertrek het, het ek opgemerk die SAPD besoek bogemelde perseel.
Dus, meneer die roekelose en onverantwoordelike bestuurder, jy het ’n amptelike klag met ongeveer twee minute vrygespring.
Sou jy steeds op bogemelde perseel wees tydens die besoek van die SAPD, sou daarop aangedring word dat ’n bloedtoets onmiddellik gereël word.
Liewe ouers van hierdie jong man, ek rig hierdie brief met groot empatie, maar ook met groot bekommernis in my hart.
Ek kan nie toesien dat hierdie jong man en sy vriend, wat alles met oorgawe meemaak, in een nag van roekeloosheid met ’n telefoonoproep huis toe kom nie.
Té veel lewens lê al verwoes in die strate van die Paarl op hierdie wyse.
Wat u as ouer/s met hierdie inligting maak, is u eie saak. Ek voel verlig na hierdie skrywe, want ek het my plig gedoen. Ek is ook ’n ouer, en vrees hierdie tipe onverantwoordelikheid.