Diensstandaarde stel teleur by motorhawe
2005-06-30
KWAADWILLIG is hierdie skrywe nie - moontlik eerder ‘n poging dat ons mekaar moet kan teregwys.
Dikwels word daar stories uitgeruil oor swak diens wat ervaar is, maar minder dikwels word vertel van hoe die ontevredenheid aan die eienaar van daardie onderneming oorgedra is.
Indien jy swak diens ontvang van ‘n onderneming glo ek dit is jou plig om dit vir die eienaar van daardie onderneming te vertel.
Dikwels was die eienaar nie bewus dat daar ‘n probleem is nie en dit help hom wanneer sy kliënte dit aan hom uitwys.
‘n Mens staan egter verstom in gevalle waar die eienaar self skouerophalend weier om iets aan die situasie te doen.
Dit was nog altyd ons ingesteldheid om die kleiner plaaslike besighede te ondersteun en vir daardie rede vul ons beide ons voertuie die afgelope jare by dieselfde vulstasie.
Herhaalde male het dit egter al gebeur dat diesel op die voertuie gemors word as gevolg van wat lyk na ‘n defektiewe kraan. ‘n Poging om die diesel af te spoel kan veroorsaak dat water in die dieseltenk beland.
By drie geleenthede het my vrou dit al aan die betrokke joggie uitgewys en toe dit vandag weer gebeur, het sy aangedring om die bestuurder te sien.
Die uiteinde van die gesprek was dat die eienaar basies aan my vrou gesê het dat sy eerder ‘n ander vulstasie moet ondersteun. Dit is steeds sy reg, maar ‘n mens sou tog wou sien dat so iets in ‘n ander gees kan geskied.
Is die man bewus daarvan dat ek en my vrou ten minste R1500 se diesel elke maand daar koop? Boonop het ons ook altyd sy kafee op die perseel ondersteun.
Dit is moontlik heel toevallig, maar ‘n kollega het verlede week by dieselfde vulstasie diesel ingegooi en moes ‘n langnaweek-wegbreek uitstel as gevolg van water in die diesel.
‘n Paar honderd rand se werk en filters later was die voertuig weer lopende. Sy gaan gewis ook nie weer daardie vulstasie ondersteun nie.
Ons sal intussen maar ‘n ander vulstasie ondersteun en dophou vir die verwagte “Under new management” bordjie wat gewis weldra sal verskyn.
Teleurgestelde ondersteuner
Die eienaar reageer: Inligting oor swak diens word altyd op prys gestel en help om ‘n standaard te handhaaf en ons het reeds hierdie pomp ondersoek om te verseker dat daar nie fout is nie.
Van al die voertuie wat by die spesifieke pomp diesel ingooi, is dit eienaardig dat net dié spesifieke kliënt gereeld klagtes het.
Elke saak het twee kante.
More
News
|