Gebou van geloof en hoop
2008-05-29
VROEGOGGEND, om 03:00 in die nag van 13 Mei 2008, breek ’n brand in Huis Cummings uit, waarskynlik weens die kortsluiting van ’n verwarmer van een van sy studente. Die inwoners van Wellington is verslae, en deur die volgende dae is daar gedurig groepe mense wat die verwoesting van seker Wellington se bekendste baken gadeslaan; nou slegs ’n geraamte van klip, met stukkende vensterruite en geskeurde stoepplafonne. Die dak is in puin, die houtwerk binne tot niet, so ook die meeste van die waardevolle historiese inhoud, behalwe enkele stukke wat betyds gered kon word. Die verlies van hierdie indrukwekkende drieverdiepinggebou van groot historiese waarde lok landwyd reaksie uit. So ook die tragiese lot van sy inwoners. Ek kry vroegoggend van 13 Mei per sms die tyding van ’n koshuishoof van een van die naburige koshuise. As ek kort daarna in my motor klim en inderhaas afry, is ek byna te bang om die laaste draai langs die Wellington Museum verby te vat. Dis soos die tyding van ’n geliefde wat in ’n ongeluk was, en jy nie realiteite wil konfronteer nie. Ek sien eers rookwolke en ’n smeulende dak, en dan beleef ek ’n gevoel van verligting en dankbaarheid. Die klipmure staan nog. Onversteurbaar en onvernietigbaar, soos toe dit honderd en tien jaar gelede opgerig is. Klip van Simonstad-sandsteen en Paarlberggraniet. Die volgende dag keer ek terug en stap deur die verlate gebou. Ek ploeg deur ’n vloer van modder. Nee, tensy ek met die brandtrap tot bo klim, is deurgang hier nie moontlik nie. Ek stap weer agter uit. Hier is meubels op die gras uitgedra – tafels, stoele, matras- se, geskeurde boeke en papierrommel waaraan die geur van ou rook kleef. Verstrooide oorblyfsels van inwoners wat alles verloor het. As ek opkyk, sien ek dat die binnepleister van die boonste verdiepings afgebrand het en daardeur klei- stene van lank gelede ontbloot, sommige met riet versterk. ’n Hartverskeurende toneel. Dit mag maande duur voordat die gebou tot sy vorige glorie herstel word. Die gees waarin Huis Cummings opgerig is, is egter onvernietigbaar. Dit het destyds die ruimte gebied vir vroue om vir die eerste keer hoër opleiding te geniet. Die woorde van George Ferguson, baanbrekersendeling, is van toepassing: “The only university college in South Africa staffed by women, and intended for the service of women”. Die pad om tot hier te kom, was een van ongelooflike idealisme, geloof en deursettingsvermoë. Teen 1896 groei die destydse Hugenote Seminarium, die skool vir meisies wat op inisiatief van dr Andrew Murray opgerig is, uit sy nate. Die behoefte aan verdere opleiding vir onderwyseresse word groter. Grond naas die bestaande Seminarium-geboue word van ’n sekere Retief vir £350 aangekoop. In Desember 1896 word die hoeksteen gelê. Abbie Ferguson, saam met Anna Bliss die vroegste onderwyseres aan die Seminarie, skryf soos volg: “It is done, the great transaction’s done. The cornerstone of the first women’s college is laid. “It was halfpast six last evening. We cut the wire fence that separates the two properties, and we marched in procession, a line reaching a good part of the whole distance. “I laid the stone, Miss Bliss standing by me. Then she placed a Bible on the stone, and each of our twenty matriculated students placed a bunch of flowers. I read my paper on the higher education of women, there were speeches, and Mr Murray offered prayer.” Meer as ’n jaar verloop voordat die gebou ná hoeksteenlegging in Januarie 1898 geopen word, en daarvoor is daar redes. Die ideaal is dat die inwyding moet saamval met die 25-jarige viering van die Seminarie, en dat dit sonder skuld geopen word. Die geldinsameling is ’n geloofsaksie. Die Regering gee £5000, uit Amerika word £4000 ontvang, van vriende uit Engeland, Australië en Suid-Afrika £2500. Die Amerikaanse weldoener, mnr Goodnow na wie die Goodnow-saal vernoem is, skenk £1000. Andrew Carnegie uit Amerika skenk £1000. Klein bydraes help ook. Anna Cummings, een van drie susters wat uit Amerika ter wille van die Seminary Wellington toe verhuis het, begin geld spaar deur op ’n eetstaking te gaan. Sy bly sonder sekere noodsaaklikhede en bank eerder die geld wat sy vir kos sou gebruik het. ’n Amerikaanse argitek ontwerp die gebou in navolging van die Franse chateau- styl. ’n Tender van £5300 deur ’n sekere Abram word aanvaar, ’n vaardige klipwerker wat ook deur Abbie Ferguson in een van haar briewe bedank word. Op die deur van elke van die kamers word die naam van die een of ander Amerikaanse weldoener aangebring. Die gebou word sonder ’n sent skuld betrek. Met die jare was daar op Wellington ineenvloeiing van onderwysstrukture wat saamgeval het met verskillende behoeftes en veranderinge op onderwysgebied. Uit die samesmelting van die Hugenote Seminarium, die Hugenote Universiteitskollege en Friedenheim kom die Hugenote Kollege tot stand. In sy huidige vorm funksioneer die Hugenote Kollege sedert 1951 toe die kollege ’n ooreenkoms met Unisa aangegaan het. Vandag lei dit maatskaplike en jeugwerkers op, en studente kom hoofsaaklik uit die bruin gemeenskap. Hierdie studente het alles verloor, ’n dag voor die eksamen sou begin. Huis Cummings is die derde historiese gebou wat binne die bestek van ’n eeu in dié omgewing afbrand. In 1907 vernietig ’n brand die destydse Hugenote Meisieskool nadat dit slegs ses jaar in gebruik was. In Mei 1908 word ’n pragtige nuwe skool geopen, baie op die patroon van die oue. Vandag huisves dit die lesinglokale van die Hugenote Kollege. Langsaan Huis Cummings het ’n ewe mooi en geskiedkundige buurkoshuis, Huis Bliss, in 2000 afgebrand. Dis intussen pragtig gerestoureer, en wonderlike verhale is aan hierdie restourasieproses gekoppel. Mag dieselfde wonder met Huis Cummings gebeur - die verlate gange herskep word sodat lewe spoedig terugkeer. Dis een van Wellington se belangrikste erfgoed. Dit huisves ook ’n onverganklike verhaal van klip.
More
News
|