Rugbyklub vier 110 jaar se trots
2008-05-29
TROTS op sy naam en ryk aan geskiedenis, vier Wellington Rugbyklub vanjaar sy 110de bestaansjaar sedert sy stigting in 1898. Die klub se eerste velde was geleë by die ou Boys’ High-velde waar die huidige daghospitaal is. Die veelgeroemde Oubaas Markotter was ’n regsman op die dorp en was betrokke by die klub. Markotter het by een geleentheid self vir Wellington uitgedraf nadat daar onenigheid in die klub was omdat die sewentienjarige Jannie Malan vir die eerste span gekies is. Later het die klub die grond van die plaaslike owerheid bekom waar die huidige Boland-stadion vandag geleë is. In 1984 het die hoofpaviljoen se dak afgewaai en onder leiding van Joubert Cilliers, Bertie Louw en die Wellington bestuur was die dak herstel na sy huidige toestand. In 1965 het ’n gekombineerde span uit WP, Boland en SWD op ’n Woensdag teen die Franse toerspan gespeel en ’n beraamde 20 000 mense het die skouspel gade geslaan. In 1975 het Wellington Rugbyklub die stadion Boland aan die Boland Rugby Unie vir R25 000 verkoop met die voorbehoud dat Wellington Rugbyklub lewensreg het om al sy wedstryde daar te kan speel totdat die Boland ’n geskikte veld vir hulle kan gee binne ’n sekere radius. Met die koms van beroepsrugby verander die prentjie drasties en baie klubs ontbind. Wellington het gelukkig die periode oorleef, maar moes in 1998 skuif na die ou OKB-velde want M-Net het die hoofborg van die BRU geword en ook Curriebekerstatus verwerf. In 1999 word Dolf Stemmet tot voorsitter verkies en een van sy doelwitte was dat Wellington weer ’n permanente basis moet bekom. Ná onderhandelinge omskep die BRU die B-veld en laat ’n klubhuis bou met goeie kleedkamergeriewe. Die projek word voltooi in 2003 en om alles te kroon wen Wellington boonop ook die groot uitdaagbeker. Wellington Rugbyklub het natuurlik ook al ’n paar spelers vir die Springbokspan opgelewer wat vandag as legendaries beskou word. Oud-Wellingtonse klubspelers wat in die verlede al die Groen en Goud van Suid-Afrika se nasionale rugbyspan oor die kop getrek het, sluit in die onvergeetlike Flappie Lochner, die alombekende Dawie de Villiers en, meer onlangse uitblinkers, Marius Joubert en Wayne Julies. Frankie Horne verteenwoordig Suid-Afrika tans op sewes-vlak. As deel van die klub se feesvieringe met sy 110de bestaansjaar, beoog Wellington Rugbyklub om op 14 Augustus ’n groot saamtrek van oud-spelers by Schalk Burger se plaas te hou.
More
News
|