Orrel se klein klanke weer suiwer
2008-05-29
’n PRAG-ORREL wat uit die sinodesaal van die NG Kerk in Kaapstad gered is voordat die gebou gesloop is, is weer feestelik in Wellington in gebruik gestel. Die sloper van die gebou op die hoek van Queen Victoriastraat, Leon Rall van Kraaifontein, het besef hy het hier ’n “fantastiese orrel”. Maar wat daarmee gemaak? Ná talle oproepe is daar uiteindelik met ds Francois Human van Wellington-Noord kennis gemaak, en die dominee het die orrel met ope arms verwelkom. Rall het begin planne maak om die orrel vir die gemeente te stoor en te laat herbou. Intussen het hy die banke uit die sinodesaal oral deur die land op eie koste na kerke vervoer. Toe die bekende Kaapse orrelbouer, Aarnout de Muynck, by die ou sindodesaal aankom om die orrel te verwyder, het die pragtige, groot orrel verlate in die leë sinodegebou gestaan. Die dakplate van die gebou was reeds af en die nuwe eienaars sou eersdaags die gebou laat platstoot het. De Muynck het die orrel inderhaas uitmekaar gehaal en dit daarna weer in die onthaalsentrum van die Wellington-Noord gemeente ingebou. Volgens de Muynck is die orrel met die drie rye note in ’n puik toestand. Dit is in die 60er jare spesiaal in Amerika vervaardig en die vervaardigers het al die inskripsies en simbole op die instrumente in Afrikaans aangebring. Die orrel is vir bykans ’n halwe eeu in die NG Kerk se sinodesaal in Kaapstad gebruik tydens sinodesittings en ander byeenkomste. Verlede jaar het WellingtonNoord sy 50ste bestaansjaar gevier. Die groot geskenk is hierdie maand deur die orrelis van Wellington-Noord, Johan Enslin, tydens ’n spesiale gemeentefees ingewy. Die orrel sal nou in die gemeentesaal gebruik word vir opvoerings en opleiding van orreliste.
More
News
|