Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Historiese Taalraad vir Afrikaans in Wellington gestig

Historiese Taalraad vir Afrikaans in Wellington gestig
 
2008-05-29


‘n HISTORIESE oomblik vir Afrikaans het Saterdag waar geword met die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) op Wellington in die historiese Goodnow-saal.

Die Wellingtonner dr Michael le Cordeur, is gekies as ondervoorsitter van dié raad.

Volgens hom het die raad ten doel om versoening en bemagting deur kundigheid by verskillende Afrikaans sprekendes daar te stel.

“Deur die Taalraad wil ons versoening tussen verskillende Afrikaanssprekendes bewerkstellig.

“Die raad se doel is ook om die Afrikaanssprekende gemeenskap te help om hul waardigheid in die nuwe Suid-Afrika in te neem,” aldus Le Cordeur.

Na ’n lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Grondwet eenparig aanvaar.

Die stigting is met groot toejuiging begroet. Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die Noorde tot die Suide.

Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig.

Hierdie liggaam het ten doel om ’n koördinerende, netwerkskeppende en inklusiewe liggaam vir Afrikaans te wees.

Die ATR beplan nie om die werk van ander organisasies oor te neem nie, maar om deur hierdie rol, die krag en doelstellings van alle lede-organisasies los te maak en te benut.

Die ATR gaan van die standpunt uit dat Afrikaans die eiendom is van almal wat dit praat.

Die ATR onderskryf veeltaligheid en stel onder meer as doel om ook ander tale te bevorder. Hulle is bereid om saam te werk met die sprekers van enige ander taal wat dieselfde doelwitte nastreef.

Die eerste bestuur van die ATR is dan ook verkies, met as voorsitter prof Wannie Carstens (NWU en lid van die NTLA) en as ondervoorsitter, Le Cordeur (voorsitter Wes-Kaapse Taalkomitee).

Die nuwe bestuur het hulle daartoe verbind om subkomitees te stig met die oog op bepaalde fokusareas, byvoorbeeld die Afrikaanse jeug; tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans; onderwys in Afrikaans; en bemagtigingsprojekte in Afrikaans.

Die Afrikaanse Taalraad nooi alle Afrikaanssprekendes om aktief aan die verdere diskoers oor Afrikaans deel te neem.

Vir navrae, kontak Le Cordeur by mlecorde@pgwc.gov.za.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za