Inbreker op heterdaad betrap
2008-05-29
Lise Beyers
TERWYL huisbrake aan die styg is, is ’n booswig wat hom hieraan skuldig maak, verlede week op heterdaad betrap in ’n huis in Suider-Paarl. Bekende Paarliet Luzelle Möller, was Donderdag siek in die bed met griep, toe sy vroegmiddag wakker geword met haar voordeur klokkie wat lui. Sy wou nie die deur oopmaak nie, en kort hierna het sy gehoor dat daar iemand in haar huis in Hoofstraat is. Maar hiervoor was sy voorberei. Sy het rustig haar slaapkamerdeur gesluit en gewag vir die sekuriteitsmaatskappy se aankoms. Möller en Alan Carolissen van AC Rottweiler het reeds sedert die vorige Saterdag ’n lokval gestel vir inbrekers, nadat daar die soveelste keer by haar huis ingebreek is. Carolissen het voorgestel dat ’n geluidlose alarm by haar huis gekoppel moet word. Toe die dief Donderdag inbreek, was Carolissen se sekuriteitswagte byna dadelik op die toneel en die verdagte is vasgetrek. Carolissen het gesê dat huisbrake die afgelope ruk gestyg het in dié gebied en dat huiseienaars hul eiendomme moet beveilig. “Dit is altyd raadsaam om professionele advies te win oor hoe om jou eiendom te beveilig. “Wees ook te alle tye op die uitkyk vir vreemdelinge in woonbuurte en rapporteer enige verdagte bewegings aan die polisie,” het hy gesê. Intussen blyk dit of ’n sindikaat wat perdrytoerusting steel, in die Agter-Paarl doenig is. Perdry-afrigter Annemarie Schabort van Klein Diamant is besteel van 12 saals en 30 tome ter waarde van meer as R70 000. Die staaldeur van Schabort se saalkamer is oopgebreek, en die inbrekers het so vinnig gevlug dat hul gereedskap agtergelaat is. Volgens ’n polisiewoordvoerder is dit nie die eerste keer dat daar perdrytoerusting by ’n plaas in dié gebied gesteel is nie. “Dikwels gaan dit hand aan hand met ’n bakkie wat ook van ’n nabygeleë plaas gesteel is. Die diewe sal nie per voet kan vlug met hierdie toerusting nie.” Daar word vermoed dat die sindikaat óf die saals in Gauteng, óf in die Oos-Kaap, verkoop. * A burglar was caught red-handed in a house in Paarl South.
More
News
|