Peoples behaal sege
2008-05-29
YOUNG PEOPLES het Saterdag op hul 113de verjaarsdag hul eerste sege in die Superliga B-kompetisie behaal met ’n welverdiende oorwinning van 25-16 oor Strand United. Die span van die Strand het teen ’n vinnige tempo begin en binne die eerste 5 minute reeds ’n drie en ’n strafdoel behaal om met 10-0 voor te loop. Peoples het onmiddellik teruggeantwoord met ’n drie deur Rowan Fortuin om die telling te laat krimp na 10-5. Peoples het deurgaans die tempo van die wedstryd bepaal deur die swaar voorspelers van die Strand oor die veld te laat hardloop. Die rots van Peoples, Ben Martin, het ná goeie samespel tussen die voor- en agterspelers langs die pale oorgeduik om sy span te verseker van ’n drie. Dominique Daniels het Manuel se drie verdoel om die telling op 12-10 te laat met die aanbreek van rustyd. In die tweede helfte het die Tiere egter die tempo van die wedstryd verder verhoog en die span van die Strand in alle fasette oorheers. Met Peoples in beheer van die wedstryd, het die span van die Paarl weer punte aangeteken toe die heelagter, Manie Adams, met blote spoed om die heelagter van Strand gehardloop het om sy span se derde drie te druk. Peoples se slot, Glenver Kimber, het weereens ’n reuse wedstryd gespeel en is sodoende beloon met sy span se vierde drie na ’n goeie skrum op Strand United se doellyn. Saam met Kimber was sy slotmaat, Johan Fortuin, ’n toonbeeld van krag in die lynstane. Die Tiere moet probeer om dié wenmomentum te behou wanneer hulle Saterdag kragte meet met Goodwood op Faurestraat-stadion. Peoples se tweede span het verloor met 25- 29 en Peoples III het met 7-14 vasgeval.
More
News
|