Een en twintig vir Freddie
2008-05-29
Jaco van Wyk
FREDDIE NEFF het onlangs, op Werkersdag, in sy 21ste SAD Safari halfmarathon deelgeneem en sodoende sy naam in die rekordboeke geskryf as een van slegs 5 atlete wat met dié mylpaal spog. Neff is egter die enigste atleet van die Paarl wat dié prestasie kon vermag. Neff het, na hy in 1998 sy Vlak 1 Middelafstand Afrigtingskursus voltooi het, ’n oefengroep begin met die naam Athletics Alive. Vandag is die 4-malige Comrades-atleet, asook 4-malige Two Oceans marathon-atleet, ’n Vlak 2 Provinsiale Middelafstandafrigter en beoog hy om die “meestersbeen van atletiek te bevorder in die Boland. “Onthou, meestersatlete was ook junior en senior atlete in hul dae van jonk wees. Boland se atlete vertoon goed op meesters-gebied en hulle hou ons streek se naam hoog.” Neff is, as ’n bekende atleet en gerespekteerde afrigter in die gemeenskap, ook werksaam by skole soos Ligstraal en Eden Opleiding Sentrum vir gestremde kinders waar hy as afrigter uithelp. Die pa van twee jong seuns is tans ook besig met programme by sy klub om te help om kinders van die straat af te kry. As ’n veteraan atleet wat op sy ouderdom nog baie aktief is, het Neff onlangs self aan die SA Meesterskampioenskappe by Sasolburg in die kategorie vir mans tussen 35-39 deelgeneem waar hy ’n derde plek behaal het in die 800m-item en ook derde gekom het in die hoogspring-item. Die kampioenskap vorm egter slegs ’n klein breukdeel van al die kompetisies waarin Neff oor die jare deelgeneem het. “Die hoogtepunt van my atletiekloopbaan, as afrigter en as atleet, was toe my oefengroep, en goeie vriende, dit vanjaar reg gekry het om as klub onder Boland atletiek ons naam te behou en te registreer as klub.”
More
News
|