DIE SA Terroir Wyntoekennings is in 2006 gestig om erkenning te gee aan Suid-Afrika se streng Wyn van Oorsprong reëls.
Die uitslae is ’n venster van Suid-Afrika se wyne wat die boonste gehalte van hul wynbouterrein uitbeeld.
Vanjaar is die derde SA Terroir Wyntoekennings en die beoordelaars word jaarliks geroteer sodat dit nie altyd presies dieselfde kenners is wie se smaakvoorkeure oorheers nie.
Sedert die sukses van die eerste twee kompetisies, is die borgskap drasties verhoog deur Novare. Vanjaar gaan ’n persentasie van die inskrywingsgeld in samewerking met Novare geallokeer word vir verdere praktiese wynbou-opleiding aan werknemers van wynkelders wat sertifikate wen.
Die opleiding is by Elsenburg Landboukollege.
Die beoordelaars is Charl Theron (sameroeper), Susan Wessels, Dave Hughes, David Biggs en Clive Torr.
Rosé wyne is ook vanjaar bygevoeg na die voorstel van Charl Theron, koördineerder van die beoordeling.
“Dit is ’n sterk-groeiende kategorie in die uitvoermark en ons vraag was altyd of dit by terroir hoort. Indien dit egter kwalifiseer as ’n rosé wat van rooi druiwe gemaak word en nie ’n mengsel van wit en rooi is nie, kan die terroir sekerlik ’n rol speel.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 19 Junie en die toekenningsfunksie is op 16 Julie by Meerendal, waar die streekwenners aangekondig word en sertifikate aan die nasionale wenners oorhandig word.
Vir meer inligting en inskrywingsvorms, kontak Elma Brand by Definitely Different, 021-863-0397 of events@definitelydifferent.co.za.