WYNMAKERS het reeds ’n idee met watter kultivar of styl hulle ’n slag kan slaan op vanjaar se SA Jongwyn Toekennings.
Inskrywings sluit 25 Junie en ’n maand later span die bedryf se ringkoppe elke proe- klier en greintjie kennis in om oor nuwe adresse vir die bekers te besluit.
Die beste onder die bestes verwerf die gesogte Genl Smuts Trofee - die toppunt van prestasie vir Suid-Afrikaanse wynmakers, verlede jaar deur Wamakersvallei Wynkelder op Wellington ingepalm.
Bykans net so belangrik is die Pietman Hugo Trofee vir die wynmakery met die hoogste totaal vir vyf wyne.
Op 21 Augustus breek die groot dag aan, wanneer die wenners aangekondig word.
Jongwyne ding om kampioenskaptrofeë in 17 klasse mee. Onder witwyne ressorteer Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, ander wit kultivars, droë wit versnit, soeterige witwyn en edellaatoes.
Onder rooiwyn word sake in die klasse vir Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, ander rooi kultivars en droë rooi versnit uitgespook, terwyl gefortifiseerde wyn die klasse vir port, dessertwyn en muskadel insluit.
Die SA Jongwyn Toekennings katalogus en inskrywingsvorm is beskikbaar by www.youngwineshow.co.za en by die SA Nasionale Wynskouvereniging kantoor. Kontak Elsabé Ferreira by 021-807-3104, faks 021-863-2079 of e-pos ferreira@vinpro.co.za.