EERS het die Engelse, ’n nasie van tee- en bierdrinkers, wyn by hul drankvoorkeure gevoeg en die grootste kopers van wyn ter wêreld geword.
Nou lyk dit asof Duitsers ook hul drinkgewoontes begin verander, en Suid-Afrika se wynbedryf baat beslis daarby.
Statistiek van die Deutscher Weinbauverband wat Wines of South Africa (WOSA) bekend gemaak het, toon dat verkope van Suid-Afrikaanse wyn in die 12 maande tot Februarie 2008 sterk gegroei het.
Naas Italië, Frankryk en Spanje het Suid- Afrika die grootste voorsiener aan Duitsland geword danksy ’n toename van 11,2% in die waarde van sy markaandeel.
Hoewel die hoeveelheid wyn wat Suid-
Afrika in dié tyd na Duitsland uitgevoer het, minder as dié van Chili was, was Suid-Afrika aan waarde gemeet Chili die baas.
Chili het ’n aandeel van 4,3% van die volume en 3,1% van die waarde gehad, en Suid-Afrika 4,1% van die volume en 3,3% van die waarde.
Intussen het Nederburg – ’n aktiewe deelnemer aan die Duitse wynmark, wat trouens buiten Suid-Afrika sy grootste mark is – ’n toename van 6% in verkoopvolumes vir die 12 maande tot April gemeld. Uitvoere van vonkelwyn het meer as verdubbel.
David Cope, Nederburg se handelsmerkbestuurder, het gesê berigte oor Nederburg se welslae by wynuitstallings het beslis gehelp om die handelsmerk ’n hupstoot te gee, al word die mededinging al hoe strawwer.
“Nederburg se bekronings, saam met uitstekende waarde oor pryspunte heen, gee hom ook ’n mededingende voordeel.”
Verlede jaar het bierverkope in Duitsland tot hul laagste vlakke sedert 1993 gedaal terwyl wynverkope die afgelope vyf jaar met 11,1% gestyg het.
Nederburg se wyne, wat finesse uit die Ou Wêreld met die vrugtigheid van die Nuwe Wêreld saamvoeg, tref die kol wat Duitse smaakvoorkeure betref.