Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Theo toor met klawerbord

Theo toor met klawerbord
 
2008-06-05


INSPIRASIE is ’n vreemde verskynsel, want dit kan jou enige tyd pak, en op die vreemdste plekke ook daarby.

Vra maar vir die Wellingtonse gesiggestremde musiekman Theo Venter, wat pas self sy derde CD met self-gekomponeerde instrumentele nommers die lig laat sien het.

Van die eerste note vir die twaalf snitte op sy CD Die Toekoms In het hy in die stort staan en uitdink, terwyl sy daaglikse treinrit na Stellenbosch waar hy vir ’n bekende musiekfirma werk, ook ’n ryke bron van inspirasie was.

“Idees vir musiek het my soms op die vreemdste tye van die dag of nag gepak,” vertel Theo noudat die komponerings- en opnameproses van meer as twee jaar agter die blad is.

“In elk geval kan mens mos nie net voor jou klawerbord gaan sit en jouself dwing om iets te komponeer nie; mens moet darem eers ’n idee hê waarmee jy kan hardloop.”

Theo het ook al die snitte op sy vorige twee CD’s, Greetings en Sonop/Sundown gekomponeer en self op sy elektroniese klawerbord opgeneem.

“Dis was ’n lekker proses gewees, maar harde werk wat mens soms eers na middernag in die bed gebring het.”

Vriend Hendrik Esterhuizen, ’n bekende oud-Wellingtonse klavierstemmer wat deesdae in Kathu woon, het kom hand bysit as klankingenieur om die kwaliteit van die opname eksie-perfeksie te kry.

Theo beskryf sy styl as “volwasse alternatiewe instrumentele musiek”, met ’n stewige skeutjie van die 1980’s se akkoordstyle daarby ingemeng.

“My musiek is lekker opgewek,” vertel dié gereelde lid van die NG Moedergemeente Wellington se Tekkiekerk musiekspan.

Een van die snitte, getiteld Bainskloof, is op aandrang van sy gereelde drafmaats Danie Hauptfleish en Tanya Spamer geskryf, sodat dit moontlik later vanjaar gebruik kan word as deel van die tweede Bainskloof Ultramarathon.

Theo het self verlede jaar dié wedloop, wat bo-oor Bainskloofpas strek, voltooi, en is ’n gereelde gesig aan’t draf rondom Wellington. Hy het onder meer een Comrades-wed­loop, tien Safari-halfmarathonne en drie Two Oceans marathons agter die blad.

Op sy dag was hy ook ’n kranige stoeier van die Pionierskool vir Gesiggestremdes op Worcester, en het ook krieket vir gesiggestremdes gespeel.

Theo sê hy is egter nou gereed vir ander sportiewe uitdagings, en is lus om meer gereeld in die berge te gaan stap. En watter beter inspirasie is daar nie juis as die natuur vir nog ’n liedjie of twee nie! En wie weet, CD nommer vier.

Vir CD bestellings of die bespreking van optredes, kontak Theo by 072-183-9492.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za