Mans kry hulp
2008-06-05
DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA) bied in samewerking met Pathcare spesiale tariewe gedurende Junie en Julie 2008 vir PSA bloedtoetse om moontlike probleme in die prostaat vroegtydig op te spoor. Hierdie toetse word teen R60 kontant aangebied tot einde Julie. Mans ouer as 50 jaar word aangemoedig om jaarliks hierdie eenvoudige siftingstoets vir prostaatkanker te ondergaan. Hoe vroeër prostaatkanker opgespoor word, hoe beter die kanse op doeltreffende behandeling. In die meeste gevalle toon prostaatkanker geen simptome in die vroeë stadiums nie, maar kan deur middel van hierdie bloedtoets opgespoor word. Die Prostaat Spesifieke Antigeen (PSA) toets is ’n eenvoudig bloedtoets wat die teenwoordigheid van ’n sekere proteïen, wat in die prostaatklier gevorm word en ’n aanduiding van kanker kan wees, identifiseer. Indien hierdie tellings verhoog is, sal daar verdere toetse gedoen word om te bepaal wat die oorsaak is. Vroeë waarskuwingstekens van prostaatkanker: • probleme om te urineer • herhaaldelike behoefte om te urineer, veral snags • probleme om die urinestroom te begin en te stop Latere gevaartekens van prostaatkanker: • bloed in die urine • ’n pynvolle of brandende sensasie tydens urinering • pyn in die lae rug, bobene of bekken Mans kan gedurende Junie en Julie bloed laat trek by Paarl Pathcare Lab van Maandag tot Vrydag vanaf 08:00 tot18:00 en Saterdag vanaf 08:00 tot 13:00. Skakel 021872-5158. Bloed kan ook getrek word op Wellington by drs Portwig, Otto en Pienaar van Maandag tot Vrydag vanaf 08:00 tot 16:00. Skakel 021-873-1057. Op Franschhoek word die diens gebied by drs Van der Merwe en Heywood van Maandag tot Vrydag vanaf 08:00 tot 17:00. Skakel 076-279-4755. Neem vandag die regte besluit , gaan vir die PSA toets, dit kan jou lewe red. Vir meer inligting, skakel Barbara Williams van CANSA by 021-873-6358.
More
News
|