Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Soos 'n lam ter slagting

Soos 'n lam ter slagting
 
2008-06-05


EK was ’n tenger twaalfjarige kind toe Koos Vos ’n 30.06 in my fyn handjies stop en fluister, “skiet hom agter die blad.”

Ek was op sy plaas Humansdam, naby Vanwyksvlei in die hart van die Karoo, waar ek gereeld my lyf plaasjapie gehou het tydens skoolvakansies.

Ek het elke oomblik aangegryp om saam veld toe te gaan en as stadskind was dit vir my ontvlugting.

Dié dag was ek en Koos in die veld terwyl sy oom daar gejag het.

Die oom was reeds lank in die tand en ons moes sy skote fyn dophou dat hy nie ’n bok kwes nie.

Ons het by ’n koppie opgestap om die oom in die vlakte dop te hou. Toe ons die kruin bereik, staan ’n pragtige Springbok-ram so ’n honderd tree van ons af.

Ek het nooit verwag dat die geweer in my hande geplaas sal word nie, want op daai stadium van my lewe het ek slegs met ’n windbuks en ’n .22 geskiet, wat mak is in vergelyking met die magtige 30.06.

Ek onthou nog goed hoe my asem begin jaag het en my maag bollemakiesie geslaan het – ek was oorweldig met ’n mengsel van opgewondenheid en senuagtigheid.

Toe ek die sneller trek, beland ek amper op my agterstewe weens die geweldige slag van die roer.

Maar die bok is platgetrek.

Dit was seker een van die grootste oomblikke van my lewe en van daar af het daar nie net ’n liefdesverhouding tussen my en jag begin nie, maar ook met vleiswerk.

Jy sien, Koos Vos het vir my van die staanspoor af geleer dat as jy bereid is om ’n dier te skiet, moet jy bereid wees om die vuilwerk te doen wat daarmee gepaard gaan.

Dit is nou die derms uithaal, vel aftrek en opsny van die bok.

As die bok tussen die yster- rotskoppies van die plaas geskiet word, dan moet jy hom self afdra na ’n paadjie waar die bakkie hom kan optel.

Jy skiet nooit meer as wat jy persoonlik gaan gebruik nie.

Sedertdien skiet ek wanneer ek tyd het, wat al hoe minder geraak het deur die jare, maar dit bly ’n passie by my.

Dit gaan nie net oor die skiet nie, maar die hele ervaring van die veld en die werk van die vleis.

Ek was onlangs saamgenooi om aan die Kalahari-kant van Namibië te gaan jag op die plaas Volmoed. Dit was my eerste ware vakansie in twee jaar en ek was soos ’n kind in ’n speelgoedfabriek.

Hier het ek van een van die talle rooi duine ’n gemsbok geskiet, wat nog altyd ’n ideaal was.

Hierdie vakansie sal baie beskou as harde werk, maar dit was tog te lekker.

Ons sal een dag jag en die volgende dag heeldag vleis werk. So het dit gegaan tot op die Vrydag voordat ons terug Kaap toe is – een groot genot.

Maar dikwels loop ek my vas wanneer ek vertel dat ek jag.

Die eerste reaksie van talle mense is “foeitog, die arme bokkie.”

Of, “dit is darem verskriklik wreed.”

En dit van mense wat nie vegetariërs is nie, maar groot vleiseters. Hulle is gewoonlik die eerste wat na die bak biltong op die koffietafel gryp.

Wat dié afvalliges nie besef nie, is dat die vleis wat hulle tog te gretig in ’n winkel koop, afkomstig is van diere wat baie erger gely het as die bok wat ek in die veld geskiet het.

Hulle besef nie dat die bees, skaap of vark soos ’n sardyntjie in ’n reuse wa gelaai word en soms honderde kilometers na die slagpale vervoer word nie.

Hierna kan hierdie vrag vir nog etlike ure staan voordat dit hul beurt is om na slagting gelei te word.

Die stres wat die dier tydens hierdie periodes ondergaan, is baie meer as die bok wat ek in die veld skiet wat geensins bewus was van wat hom gaan tref nie.

By die slagpale word die diere met ’n elektriese skokapparaat disnis geskok of in die brein gesteek, opgehys en keelaf gesny.

Alhoewel daar streng regulasies is wat veronderstel is om te verseker dat hierdie proses so genadig moontlik gemaak word vir die dier, gebeur dit nie altyd in die praktyk nie.

Ek wonder of alle diere heeltemal bewusteloos is terwyl hul keel afgesny word, sowel as pens en pote.

Ek sal maar liewer nie verder vertel van die wrede omstandighede waarmee kommersiële hoenders vet gedwing word vir die mark nie.

Klink hierdie proses beter as die ervare jagter wat vir sy eie pot ’n bok in die veld plat trek?

Lekker eet!




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za