Meer boer as kat
2008-06-05
Malané Bosman
GERTJIE is baas van die plaas. Hy boer. Hy grawe gate en hy bou tonnels. En hy maak, soos enige goeie boer, ’n plan as dinge nie na sy sin loop nie. Gertjie het nie sy eerste lewenslig op ’n vrugteplaas in Wellington se Bovlei gesien nie. Nee, hy is in die dorre Karoo gebore in ’n familie stokkiesstertmeerkatte. Hy was net ’n vroeggeplukte peertjie groot toe hy die lang pad Boland toe in ’n kombersie afgelê het, as geskenk vir ’n plaaskind tussen wingerde en koejawelboorde. Daar het Gertjie letterlik met sy gaai in die botter geland. Die plaashonde het hom gul ontvang, en met lekkende tong en swaaiende stert welkom laat voel. Hy is tussen hul voorbene warm gehou en kon hul slaapmandjies deel, al moes die knaende gekrap en gevroetel seker soms gepla het. Die rusbanke het sy holtes geword. Die sonstoep sy uitkykplek waar hy sy magie warm kon bak. Agter die yskas was sy wegkruipplek waar hy gedut het. Die peertjie het geswel tot vandag se eerstegraadse peer. Gertjie is vandag ’n jaar oud. Nou sonder sy twee peertjies (soos die boere dit noem), want die plekke wat hy gemerk het, het darem net te onaangenaam geruik. Vandag is Gertjie baas van die plaas. Gertjie se dag begin soggens invaltyd. As die plaaswerkers hulle grawe optel, is hy by. Hy wikkel saam land toe en grawe harder en dieper as die beste man. Tussendeur raak hy sommer kou-kou ontslae van peste soos krieke en ander goggas. Hoe hy sonder horlosie dit weet, bly ’n raaisel, maar minute voor middagete, pak hy die pad eetkamer toe aan. As die huismense aansit, hurk Gertjie al op sy agterstewe op die vloer langs die etenstafel. Daar kry hy ook sy gooiseltjies vleis. Voor nagereg, lê hy al uitgestrek op sy rug langs ’n tafelpoot. Die middagslapie duur ook tot presies ’n minuut voor invaltyd. Dan is Gertjie op die sonstoep, met ’n uitsig oor die hele plaas – en waar die middagwerk gedoen moet word. Dalk is dit om die nuwe grenadella plante uit te vroetel so vinnig as wat dit geplant word. Dalk is dit om lastig te wees voor die grawe. Dalk is dit om sommer net goggas uit te snuffel of tonnels te grou. Noudat dit koud is, eindig Gertjie se werksdag ook ’n effe vroeër. Klam Bolandse weer sit nie lekker in ’n Karoo-meerkat se lyf nie. Gelukkig is daar dan die agterkant van die yskas, of die honde se warm lywe, of ounooi se bed. * A Karoo meerkat has made a Wellington farm his home.
More
News
|