Ontwikkeling kan nog net in 735 dae voltooi word 2008-06-05
DAAR is nog 735 dae oor voordat die Sokker Węreldbeker afskop in 2010.
In verlede week se Paarl Post was daar ’n berig oor die beoogde 2010 Paarl Waterfront-ontwikkeling wat langs die oewers van Bergrivier by die Markstraatbrug gebou gaan word.
As ’n Paarl Post-leser, dink ek nie dat dit moontlik is vir die ontwikkelaars om hierdie sportgeriewe-ontwikkeling te bou in 735 dae nie.
Dit is eenvoudig nie moontlik om alles gedoen te kry in so ’n kort tydjie nie.
Eerstens moet al die klubs, naamlik die Paarlse rugby-, krieket-, muurbal-, kano-, en hokkieklubs, hervestig word om plek te maak vir die ontwikkeling.
Hoe lank gaan die onderhandelings met die verskeie klubs duur? En eers daarna kan met bouery begin word.
Dan is daar boonop nog die elektrisiteitsprobleem. Hoe kan die ontwikkelaars enigsins voortgaan met die projek as daar nie betroubare elektrisiteitsbronne is vir die bou van die projek nie?
Miskien het die ontwikkelaars reeds aan alternatiewe gedink, soos kragopwekkers?
Ek is baie opgewonde oor die projek, maar ek is meer bekommerd, want die uurglas loop uit.
As die betrokke persone werklik ernstig is oor die projek, sou hulle alreeds daarmee weggespring het.
Ons as Paarl Post-lesers sal graag meer wil weet oor die ontwikkelaars en die munisipaliteit se planne, want die tyd vlieg.