Roses lek lippe af vir titel
2008-06-05
DIE Rose, wat eerskomende Saterdag vir Wesbank pak in ’n maak-of-breek wedstryd, moes Saterdag hul keer behoorlik ken voordat hulle vir Montagu-Villagers op Montagu met 36-29 kon klop. Die Rose het die eerste helfte totaal oorheers en het met die aanbreek van rustyd gerieflik met 24-7 voorgeloop. Ná rustyd het die die tuisspan egter goed teruggeveg en twee vinnige drieë gaan druk. Met die telling op 24-elk het dit gelyk asof Montagu-Villagers vir ’n yslike verrassing gaan sorg. Die Rose het egter nie paniekerig geraak nie en op die ou einde die knoop deurgehak en sodoende ook hulle onoorwonne status behou. Vir Roses het Cornel Hendricks en Lindile Skota elk twee drieë gedruk. Mark Masimla het die ander drie gedruk. Garth April was suksesvol met vier doelskoppe en een strafdoel. Saterdag pak Roses United Wesbank op Pelikaanpark in Wellington. Die oorwinnaar van die wedstryd sal gekroon word as die wenner van die eerste ronde in die Boland Premierliga. Veral van belang is die feit dat die wenner ook die Boland rugby- unie sal verteenwoordig by die Nasionale Klubrugby-kampi- oenskap wat in September plaasvind. Wesbank lê tans tweede op die punteleer na Roses United. Volgens Abel Davids, die Rose se afrigter, is sy manne slaggereed vir die wedstryd en besef hulle ten volle die belangrikheid van ’n wen. Die Rose sal weer swaar steun op hul sterk pak voorspelers en veral op die lostrio van Franzil September, Randall Hefca, Ignatius Korabie, asook die kookwater slot, Shane Jacobs, staatmaak. Die stryd in die voorry gaan ook gedug wees en hier sal baie gesteun word op die ervare loskopstut Carl Ericson. Die Rose se giftige agterlyn sal natuurlik ook weer prominent ingespan word teen Wesbank. Manne soos Cornel Hendricks en Lindile Skota sal veral hulle goeie spelpeil van die afgelope paar wedstryde wil voortsit.
More
News
|