Tiere vat vlam
2008-06-05
YOUNG PEOPLES het Saterdag op alle silinders gevuur om die span van Goodwood oortuigend met 49-19 op Faurestraat-stadion te klop. Peoples se groot held was Ben Martin wat soos ’n lem deur Goodwood se verdediging gesny het. Hy is sodoende met twee pragdrieë beloon. Goodwood het binne die eerste vyf minute reeds ’n verdoelde drie gaan druk. Francois Manuel het egter onmiddellik hierna teruggeantwoord met ’n goeie drie. Manie Adams het na goeie spel Peoples se tweede drie langs die pale gaan druk. Hierna het Peoples oorgerus geraak en toegelaat dat Goodwood hul tweede drie druk. Die Tiere het egter die laaste praatwerk van die helfte gedoen toe Martin vanuit sy eie kwartgebied genael het om onder die pale te druk. Die spanne het gaan rus met die telling op 20-12 in Peoples se guns. Ná rustyd was Delwayne Cornelissen goud werd vir die Tiere met sy taktiese skopwerk. Martin het vroeg in die tweede helfte sy tweede drie gaan druk na ’n goeie breekslag deur die senter, Sam Titus. Dit was gevolg deur ’n tweede drie vir Adams, met Lorenzo Jacobs wat kort hierna ook ’n drie ingepalm het na ’n vlymskerp breekslag. Goodwood het laat in die wedstryd weer gaan druk, maar Peoples het die doodskoot gegee toe Garth Lewis die tuisspan se se sewende drie gaan druk het Peoples se jong stut, Cheslyn Malherbe, het weereens ’n reuse wedstryd gespeel. Peoples moet nou dié wenmomentum hou vir hul wedstryd teen Valsbaai. Peoples II het met 39-0 geseëvier terwyl die derdes met 28-12 baas was.
More
News
|