Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Springbok in wording

Springbok in wording
 
2008-06-05

Jaco van Wyk

DIE afrigter van Suid-Afrika se o.20 Rugbyspan, Eric Sauls, het onlangs nog ’n diamant in die Paarl geïdentifiseer toe hy die kookwater skrumskakel van die Boland Kavaliers, Dewaldt Duvenhage, in sy groep ingesluit het om aan die IRB Wêreldkampioenskappe in Wallis deel te neem.

Die oud-Gimmie speel twee seisoene reeds skitter-rugby vir die span van Wellington en volgens die spanbestuurder van die Kavaliers, Denver Pienaar, is dit Duvenhage se groot hart en individuele briljantheid wat aan hom ’n blink toekoms beloof.

“Alhoewel Dewaldt op sy eie dinge kan laat gebeur, is hy ook ’n baie goeie spanspeler en beskik hy oor ’n uitstekende aangee na beide kante toe.”

Die 20-jarige Duvenhage het aan die begin van die jaar ’n proeseltjie Super14 rugby gekry toe hy ingesluit was in die Stormers se oefengroep.

Wat sy insluiting in SA se o.20- span aanbetref, is dit ’n groot tree in die regte rigting vir Duvenhage aangesien baie Springbokke hul merk op junior vlak gemaak het. Daar word ook verneem dat Duvenhage die eerste keuse skrumskakel in die o.20 groep is, ondanks die feit dat die ander nommer nege in die groep, Francois Hougaard, reeds Super 14 ervaring agter die blad het. Volgens Pienaar maak Duvenhage egter gebruik van sy geleenthede en dit was dus ook ’n geleentheid wat hy aangegryp het wat van hom die nommer een skrumskakel in die Boland gemaak het.

“Dewaldt het sy stempel afgedruk toe hy verlede jaar teen Vrystaat van die plaasvervangerbank af opgekom het en twee prag drieë gedruk het om die wedstryd in die guns van die Kavaliers te swaai.”

Beteken al die ophef oor Duvenhage dat daar nog ’n Springbok uit die Paarl se geledere na vore gaan tree?

“As Dewaldt aanhou met sy skitterspel, is hy definitief ’n toekomstige Springbok,” meen Pienaar.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za