Labori staan terug vir niemand
2008-06-05
DIE eerste rugbyspan van Hoërskool Labori het tot dusver vanjaar pragtige rugby opgedis. Nadat hulle die April-vakansie as die wenners van die Tony Stoops rugbyweek aangewys is, het hulle van krag tot krag gegaan en afgereken met spanne soos Milnerton (20-3), Table View (34-0), Raithby Universals (41-5), Kylemore (20-5), Klein Nederburg (20-19), Windhoek Hoër (21-0), President (32-15) en Groendal (32-3). Labori het ook met 17-elk gelykop gespeel teen New Orleans en slegs in een wedstryd die seisoen die knie gebuig toe hulle met 21-26 verloor het teen Robertson Hoër. Die naweek het Labori weer ’n prag-oorwinning van 25-0 oor JG Meiring behaal. Labori het dus nege van sy elf wedstryde tot dusver gewen, een gelykop gespeel en slegs een verloor. Laborie het in die proses 286 punte aangeteken teenoor die 93 punte van hul opponente. Volgens Labori se afrigter, mnr Chris Botha, is dit ’n voorreg om met so ’n klomp toegewyde manne te werk. Hy skryf hul puik prestasies veral daaraan toe dat hulle besonder fiks is en bereid is om baie ure se harde werk in te sit. Die span onderneem vanaf 29 Junie tot 10 Julie ’n toer na Argentinië.
More
News
|