’n JONGMAN van Noorder-Paarl is verlig dat hy ongedeerd van ’n motorkaping afgekom het.
Charl Cilliers het Saterdagaand omstreeks 21:50 geld getrek by ’n OTM op die hoek van Breda- en Du Toitstraat in die Paarl.
Toe hy terugklim in die motor, het ’n man hom skielik gegryp en ’n vuurwapen in sy sy gedruk.
“Die man het my selfoon gevra en ek het vir hom om die bos gelei en gesê dat dit binne die kar was.
“Ongelukkig was my beursie reeds in die motor, want nadat ek die deur oopgesluit het, het ek dit binne gesit.
“Ek was stomgeslaan en alles het so vinnig gebeur. Ek het net besef dat ek nie moet stry oor iets nie, want hy was gewapen.
“Die feit dat ek nie met die kaper geargumenteer het of hom probeer oorrompel nie, het waarskynlik my lewe gered.”
Volgens Cilliers het die kaper hierna in die motor geklim en by Du Toitstraat opgery. Hy het gesien dat hy enkele meters verder vir iemand, vermoedelik ’n medepligtige, opgetel en weggesnel het.
Weens die swak lig kan Cilliers die kaper nie identifiseer nie.
Cilliers se selfoon was die hele tyd in sy sak en hy het eers ’n vriend om hulp geskakel. Toe hy nie antwoord nie, het hy die polisie gebel.
“Ongelukkig het ek 10111 gebel, want ek kon nie die Paarl polisiestasienommer onthou nie. Ek moes lank wag voordat die skakelbord in Kaapstad antwoord. Ek sal aanraai dat die publiek die Paarl polisienommer eerder skakel in nood.”
* ’n Man is onlangs in hegtenis geneem nadat hy ’n klag van motordiefstal by die polisie gemaak het, nadat hy beweer het dat hy gekaap is.
Phinpela Mphithi van Wallacedene het twee weke gelede beweer dat hy in sy voertuig gekaap is by die verkeersirkel in Markstraat, toe ’n voertuig hom gedwing het om te stop.
Die vermeende kaper het hom beveel om by Langenhovenweg op te ry en kort voor die N1 is hy beveel om te stop.Hy is toe glo uit die motor gegooi.
Maar by nadere ondersoek deur die polisie is vasgestel dat die klaer vermoedelik self sy voertuig in Mbekweni verlaat het, en dit hierna as gesteel aangemeld het. Mphithi is aangekla van regsverydeling.
* A young man from Paarl was hijacked in Paarl CBD.