Tyd saam met pa is kosbaar
2008-06-12
Sieb Sieberhagen
SY glo dat tyd een van daardie kleinode is wat baie kosbaar is en wanneer dit by haar pa Johan kom, is tyd saam met hom een van die kosbaarste. So sê enigste kind Lauren Esterhuyse (17), een van Drakenstein se blink sportsterre. Dié graad 11-leerling by Bridge House in Franschhoek het in 2007 met die Paarl Post Junior Sportvrou van die Jaar-titel weggestap. Sy het verlede jaar ’n plek in die SA o.19 dogterskrieketspan verower en het al ook Suid-Afrika in internasionale karate verteenwoordig. “Omdat ons so baie goed deel en saam pret het, is ons vriendskap baie heg. En my pa is nooit onnodig streng nie,” bieg sy. “Hy ondersteun my al die pad. Of dit nou sport, akademie of seunsvriende is, hy gee altyd goeie raad, “Nou wel, met die seunsvriende was dit maar so ’n bietjie moeilik aan die begin,” glimlag sy skaam, “maar hy was nooit onmenslik nie,” sê sy As enigste kind word ’n mens nogal beskermd groot, maar dit veroorsaak dat jy enigiets met jou ouers kan deel, meen sy. “Ek dink aan daardie dae toe sy nog so ’n ou tjokkertjie was,” vertel Johan, en hy beduie so heuphoogte. “Toe al het sy die nefies hier op die grasperk laat bontstaan met die kieketkolf.” Johan, saam met sy vrou eienaar van die CWJ juweliersonderneming in die Paarl, wil duidelik nie onnodige lof toeswaai nie, maar niemand sal hom blameer as hy dit doen nie. Sy sportiewe dogter is reeds in graad tien vir die Bolandse senior vroue krieketspan gekies en het Suid-Afrika ook al in internasionale karate verteenwoordig. Lauren is nie net talentvol in krieket en karate nie, maar is ook geseën met daardie positiewe kwaliteite wat enige ouer begeer. “Ons ondersteun haar ten volle, maar ons meng nie in nie. Seker maar omdat ek nie al die tegniese aspekte van haar sportsoorte onder die knie het nie. “Ek het so ’n bietjie geboks en rugby gespeel toe ek jonger was,” vertel Johan. En wanneer sy so goed presteer op die sportveld? “Dan swel ’n pa se borskas omtrent van trots. “Maar ons kon nie vir meer gevra het nie,” sê Johan. “Sy is spesiaal, baie talentvol en seker daardie modelkind waaroor mens altyd droom. “Kyk maar hoe gaan dit vandag - baie ouers en kinders sukkel met verhoudings. En ons het nog net vreugde gehad.” Alhoewel Lauren se ouers hul bes doen om langs die veld te wees wanneer sy deelneem, is dit daardie spesiale tydjies saam, wat hulle verhouding nog hegter maak. Lauren vertel: “En wanneer ons reis en daar is ’n uitdaging soos ’n vreesaanjaende pretrit by ’n pretpark of watersport, dan pak ek en my pa dit saam aan. “En natuurlik wanneer ons Sondae alleen is of as hy op die fiets klim wanneer ek gaan draf. Of wanneer ons Saterdagmiddae voor die televisie inskuif om rugby te kyk. Dit is wat my altyd sal bybly. “Saterdagaande braai ons steak en dan moet ek my man staan,” lag sy. “My pa het my geleer en hy erken dat ek nou ’n mean steak kan braai,” sê sy. Die kampioen-pa het haar ook al geleer om te skiet en sy was al selfs saam met hom in die jagveld, vertel sy opgewonde. Wat nou voorlê, is natuurlik iets wat enige pa se geduld tot die uiterste sal beproef: motorbestuur, lisensie-kry tyd. En daarvan getuig die groot rooi L op haar pa se bakkie. “Maar my pa is ’n goeie instrukteur, hy het nogal baie geduld,” erken sy. Sondag is dit Vadersdag en dan kry hy ontbyt in die bed. En ’n spesiale kaartjie vir ’n spesiale pa, belowe sy. * Lauren loop ’n karatetoernooi in Julie in Japan mis as gevolg van ’n rugbesering. Sy hoop nogtans om die SA span te haal met die oog op die 2009 wêreldkampioenskappe.
More
News
|