‘Resies’ pret én leersaam
2008-06-12
Die speletjie Ongelooflike Resies is pret én leersaam. Dit was die mening van die sowat 300 leerders wat aan dié skattejagspeletjie deelgeneem het, wat vanjaar vir ’n tweede keer ter viering van Museummaand deur die Afrikaanse Taalmuseum en die Paarl Museum aangebied is. Graad sewe leerders van vyf plaaslike skole het die twee museums op verskillende dae besoek om die gewilde opvoedkundige speletjie te speel. Dit het afgeskop met ’n inleidende praatjie oor die tema van Museumdag, waarna die leerders onderverdeel is in kompeterende spanne van ses leerders elk. Elke groep het vraelyste ontvang met vrae oor die twee museums se uitstallings. Al die groepe het tegelykertyd vanaf die Taalmuseum weggespring en moes probeer om so vinnig as moontlik al die vrae korrek te beantwoord. Na twintig minute het die leerders oorgedraf na Paarl Museum waar hulle ’n tweede vraelys voltooi het. Die wenspanne het heerlike eetgoed gewen. Die Afrikaanse Taalmuseum se Borg-’n-bus-projek het vervoer vir Imboniselo Primêr en Amstelhof Primêr geborg. New Orleans Primêr, Laerskool La Rochelle en Laerskool Drakenstein het ook aan die speletjie deelgeneem. As gevolg van die gewildheid van die Ongelooflike Resies speletjie, sal dit voortaan op ’n permanente basis aangebied word. Skole kan daarvoor bespreek by 021-872-3441 of 021-872- 2651. Die koste vir deelname is R2 per leerder.
More
News
|