Kry beter toerusting by dié parkeerplek
2008-06-12
DIE eienaar van die “pay parking” by Van der Lingenplein in die Paarl kan gerus daaraan dink om ordentlike toerusting te installeer. Weereens moes ek vandag, soos die twee motors voor my, omdraai en na die een uitgang gaan waar daar mense is, net om by die parkeerplek te kan uitkom. Die gevolg was dat ek laat by my werk aangekom het na my ete, waar ek, as die masjien gewerk het, nie ’n probleem sou gehad het nie. Ek gebruik sover moontlik altyd “pay parking” aangesien dit vir my veiliger voel, maar nog nooit, op enige plek, het ek so gesukkel nie. Om in die eerste plek te sorg dat ordentlike stelsels en kaarte gebruik word, sal verdere kostes beperk. Dis nou benewens die feit dat die enigste betaalmasjien vir die hele groot parkeerplek nie werk nie en dat ’n mens elke keer moet stap na die kantoor toe om te betaal. Dis nie net ons individue wat daaronder ly nie, maar die besighede ook. Eetplekke se kliënte is minder, omdat die mense nie wil sukkel as hulle dorp toe kom nie. Ontstoke Paarl inwoner Dennis Minitzer, mede-ontwikkelaar van Van der Lingenplein, reageer: Die projek het jare se beplanning gekos. Die eindproduk, behalwe vir die probleme met die toegangsbeheer, is na ons mening ’n reuse-verbetering op die ou Van der Lingenplein. Ons is bewus van die probleem met die toegangsbeheer, die bestuur waarvan ’n nagmerrie is, en is tans besig met onderhandelinge vir die vervanging daarvan met ’n meer gebruiksvriendelike stelsel. In die lig van die probleme het ons die 30 minute gratis parkering verleng na 90 minute in die hoop dat dit die ongerief ’n bietjie sou verlig. Die hele projek is geloods as ’n eerste fase van die Paarl middedorp se hernuwing. Dit is beslis nie aangepak met winsbejag in die oog nie. Die parkering is veilig, skoon en ten duurste ontwikkel om in te pas by die omgewing. Geen projek van so ’n aard kan sonder groeipyne tot stand gebring word nie. Ons vra om verskoning vir die ongerief en vra ’n bietjie geduld.
More
News
|