Wellington net-net oorwinnaars
2008-06-12
WELLINGTON se eerste rugbyspan het Saterdag daarin geslaag om met slegs een punt, met 42-41, die knoop deur te hak in ’n wegwedstryd teen Worcester Villagers. Die wedstryd, wat teen ’n geweldige tempo gespeel is, het vir heelwat opwinding gesorg. Villagers het onmiddellik, vanaf die afskop, aangeval en sommer dadelik gaan druk. Net hierna het die tuisspan weer gaan druk om met 12-0 voor te loop na slegs vyf minute se spel. Wellington het hierna sy voete gevind en ’n blitzkrieg van drie drieë deur die regtervleuel, Marnitz Phister, die senter, Willie le Roux, en die slot, Gideon Louw, wat almal verdoel is deur die heelagter, Nicus Bergh, het Wellington na 15 minute se spel met 21-12 laat voorloop. Kort voor rustyd het Phister sy tweede drie gedruk, wat ook deur Bergh verdoel is, om aan Wellington ’n rustydvoorsprong van 28- 12 te besorg. Die tweede helfte het begin met ’n grootse terugvegpoging deur Worcester. Die tuisspan het die een aanval na die ander geloods en het op een stadium Wellington se voorsprong na slegs sewe punte laat krimp. Wellington het egter aan sy voorsprong vasgeklou en twee verdoelde drieë deur die skrumskakel, Morné Loubser, en die flank, JP Wiese, het gesorg dat die besoekers as oorwinnaars van die veld kon stap. Wellington se groot uitblinker agterlangs was die losskakel, Bradwell Swartz, wat met sy taktiese skopvoet baie werd was. Voorlangs het die flank, Junior Bester, met kragtige dryfspel uitgeblink. Wellington se tweede span het die eerste ronde onoorwonne afgesluit deur hul wedstryd met 15-13 te wen. Wellington se derdes het met 0-5 vasgeval
More
News
|