Voorste roos in Boland
2008-06-12
DIE onoorwonne Roses United het Saterdag die hoogaangeskrewe Wesbank oortuigend met 25-13 verslaan op Pelikaanpark (House of Pain) en sodoende verseker dat hulle Boland gaan verteenwoordig by die Nasionale Klubrugby-kampioenskap in September. Die wedstryd het aan al die verwagtinge voldoen en die groot skare is getrakteer op rugby uit die boonste rakke. Vanaf die afskop was dit duidelik dat die wedstryd teen ’n baie hoë tempo gespeel sou word. Nadat Josie Baardman Wesbank se eerste drie van die wedstryd gaan druk het, het die Rose se gedugte pak voorspelers hulle stempel stadig maar seker op die wedstryd begin afdwing. Roses, wat deurentyd in beheer was van die wedstryd, het voor rustyd twee drieë aangeteken. Garth April en Cornel Hendricks was die driedrukkers. Die drie van April het gekom ná ’n skitterende breekslag deur die Rose se vuurvreter flank, Elrich Erasmus. Laasgenoemde was ongetwyfeld die beste voorspeler tydens Saterdag se wedstryd en hy het sy veel geroemde opponente van Wesbank heeltemal oorskadu met sy werkverrigting en visie. Ná rustyd het die Rose hul agterlyn al hoe meer begin inspan vir aanvalle. Kort nadat die besoekers suksesvol was met ’n strafskop het die enigmatiese April die Wesbankers se verdediging aan flarde geruk met ’n puik solo-teenvaanval uit sy eie kwartgebied. Nie een Wesbank-speler kon ’n hand op April lê nie en hy het oorgeduik vir sy tweede drie. John-Lee Nortjé, wie ’n goeie wedstryd op skrumskakel gehad het, was suksesvol met die doelskop. Wesbank het egter kort hierna weer gaan druk om die telling 20-13 te maak. Die Rose het daarna die krane oopgedraai en April het met tien minute se speeltyd oor die Rose se vierde drie gaan druk. Hierdie keer het hy die bal van sy eie skop gevang en oorgeduik vir sy derde drie. Dit is duidelik dat April ’n uiters begaafde speler is en talle kenners was ná die tyd in ekstase oor sy vermoëns as rugbyspeler. Na dié drie het die Rose totale beheer oor die wedstryd geneem en die telling kon hoër gewees het as dit nie vir onnodige hanteerfoute was nie. Die Rose se kaptein, Franzil September, verdien ook vermelding vir die wyse waarop hy sy span Saterdag gelei het. Die Rose pak Saterdag vir Newtons op laasgenoemde se tuisveld in ’n vriendskaplike wedstryd.
More
News
|