Skittersege
2008-06-12
Jaco van Wyk
ONDANKS beserings aan kernspelers in die span het Paarl Rugbyklub gewys dat hulle steeds diepte in hulle geledere het tydens Saterdag se goeie oorwinning oor die span van Van der Stel. Paarl het hul besoekers met 33-5 afgestof na dit aanvanklik gelyk het of die Stellenbossers die tuisspan opdraande sou gee op Faurestraat- stadion, Die nuwe spelers van Paarl het goed ingeskakel met die gereelde staatmakers wat weereens gewys het hoe belangrik ervaring is. Paarl se voorhoede het die besoekers se fisieke voorspelers met mening gepak en ook in dié afdeling van die wedstryd koning gekraai. Die agtsteman, Edwin Conradie, moet egter uitgesonder word ná hy weereens sy hand opgesteek het as een van Paarl se groot uitblinkers vanjaar. Hy lewer week na week uithalerspel in die vastelos en vang gedurig die oog met sy goeie ondersteunende spel. Conradie was welverdiend beloon met die toekenning vir speler van die wedstryd. Agterlangs het die heelagter Alwyn Hugo, die besoekers deurmekaar gehardloop en elke keer gevaarlik gelyk as hy bietjie spasie gegun is. Paarl se skrumskakel, Ryno van Wyk, het ook deurgaans Van der Stel se verdediging op die proef gestel. Paarl se drieë is gedruk deur Hugo, van Wyk, en deur die plaasvervangerflank Lionel Hugo. Paarl kon egter verder gewen het, maar die tuisspan se onvermoë om belowende bewegings af te rond het ongelukkig teen hulle getel. Paarl se tweede span het met 17- 25 vasgeval teen die Stellenbossers terwyl die derde span hul teenstanders naelskraap met 15-12 geklop het. Paarl geniet nou twee af-naweke voordat die tweede ronde van die kompetisie in alle erns sal begin.
More
News
|