DIE swak diens by Paarl Binnelandse Sake en die wegraak van my kind se identiteitsdokument, verdien kommentaar.
Dinsdag 3 Junie het ek en my kind die Paarl Binnelandse Sake se kantoor besoek vir die uitreik van ’n noodpaspoort.
Na ’n lang wag in die rye, moes ons aanhoor dat die tydelike noodpaspoort weg is. Geen rede, net: “There was an error!”
Na byna ’n uur se wag vir die tydelike paspoort en die gepaardgaande gesoekery daarna, raak my seun se ID weg.
Nog ’n uur se wag gaan verby. Weer word daar geen verduideliking gegee nie en geen verskoning word aangebied vir die ID-boekie wat verdwyn het nie.
Kort na toemaaktyd word ons ingeroep deur mnr Lester Williams, hoof van die kantoor, wat ons meedeel dat die ID gevind is en op pad is terug van Wellington. Die ID is verkeerdelik saam met iemand anders se dokumente oorhandig.
Met die skrywe wil ek die departement van Binnelandse Sake daarop wys dat hulle hul sokkies moet optrek om ’n beter diens aan die publiek te lewer.
TeleurgesteldElija Mathebula, streekbestuurder van Binnelandse Sake, reageer: Ons vra om verskoning vir die ongerief. Ongelukkig het die betrokke persoon die ID-boekie op die toonbank in die registerboek laat lê terwyl vingerafdrukke geneem is, en toe is die volgende kliënt se dokumente daarop neergesit. Die tweede kliënt het dit per abuis huis toe geneem en toe vir ons geskakel, waarop ons die boekie op Wellington gaan haal het. Die kollekteer-toonbank word beman deur studente wat indiensopleiding ondergaan en ongelukkig sluip foute in. Ons wys daarop dat die telefoonnommer wat gelys is, buite werking is. Ons kan gekontak word op 021-872-3047.