VIR die kieser van Drakenstein wat die afgelope aantal jare uitgelewer was aan verloopte politieke karikature wat mekaar op die perron langs die munisipale soustrein verdruk, uitdruk, pootjie, in die rug steek en verraai, was Vrydag die 13de ’n ongelooflike gelukkige dag.
Die hofuitspraak, aanhangig gemaak deur die DA teen die Weskus Distriksmunisipaliteit se gewese ANC-beheerde Raad, het die betrokke Raadslede nie net aanspreeklik gehou vir hul doen en late nie, maar gelas dat alle kostes aangegaan, verhaal word van die aanspreeklike Raadslede in hul persoonlike kapasiteit.
Hiermee is redelike volwassenheid teruggebring in ’n tot nog toe heerlik onverantwoordelike kinderspel – ’n spel wat sonder skeidsregter gespeel is om persoonlike eiebelang skaamteloos te beskerm en te bevorder, praat nie eens van die skandelike minagting van landswette en die kieser se belange nie.
Voortaan sal alle jolige kleuters wat reken hulle kan maak en breek soos hulle wil, in hul pasoppens moet wees!
Van vandag af kan soustreinryers vir hul goue, bloedbevlekte kaartjies met eie goed en bloed betaal.
Hierdie hofuitspraak is verder ’n klinkende oorwinning vir die demokrasie en die rol en funksie van ’n opposisie. En ’n les vir die politieke party wat tot sover gereken het hy kan met magspolitiek maak en breek sonder enige gevaar vir aanspreeklikheid.
Die DA in Drakenstein waarsku al geruime tyd teen hierdie flitsende rooi sinjaal langs die spoorlyn van ons eie plaaslike soustrein en sal nie nalaat om in die toekoms soortgelyke aksie te neem nie, waar nodig.
Drakensteiners, maak nie saak van watter kleur of woonbuurt nie, kan eenvoudig nie langer onverantwoordelike politieke kinderspeletjies bekostig nie.
Ons dorp is besig om voor ons oë ten gronde te gaan.
Jean Smit, DA-Raadslid