Paarl-streek veg tevergeefs
2008-06-19
DIE Paarl-streekspan het Vrydagaand in ’n streekligawedstryd kragte gemeet teen die Wynland-streek en het die wedstryd in die laaste minuut met 31-29 verloor. Die Wynland-streek se ondernemende spel en verstandhouding was die beste van die twee spanne en sodoende kon hul beter afrond as die Paarlse manne. Paarl-streek het vroeg in die eerste helfte die voortou geneem met ’n strafskop, ’n drie en ’n doelskop deur die losskakel Rico Davey. ’n Onbeheerde bal ná ’n hoë lugskop het gelei tot Wynland se eerste drie en die spanne het gaan rus met die telling op 15-12 vir Paarl. Paarl-streek het vroeg in die tweede helfte gaan druk nadat Brendon van Schoor ’n lang afstand drie gaan druk het. Wynland-streek se taktiese veranderinge het egter vir hulle twee onbeantwoorde drieë besorg. Met die tyd wat besig was om uit te loop het Paarl-streek hul bonuspunt-drie gaan druk. Met Rico Davey se doelskop in die kol het Paarlstreek voorgeloop met 29-26. Die Wynland-streek het egter teruggeantwoord in beseringstyd met ’n onverdoelde drie om die wedstryd met 31-29 te wen. Alhoewel Paarl-streek die wedstryd verloor het kan die twee bonuspunte wat hulle in die wedstryd behaal het, nog deurslaggewend wees in die wedloop om die titel. Die o.20 span van Paarl-streek het vriend en vyand verras deur Wynland/Stellenbosch-streek met 48-0 te verslaan. Paarl-streek se volgende wedstryd is op 28 Junie teen die Helderberg-streek op Nuweland. Die wedstryd sal dien as ’n voorwedstryd vir die Curriebeker-wedstryd tussen WP en die Blou Bulle. Junior Paarl-streek- spanne asook die o.20-span speel ook op 28 Junie teen Helderberg-streek in Athlone.
More
News
|