Leiding met studies in alkoholsindroom
2008-06-19
BEKENDE oorsese navorsers het onlangs op die Nelson Wynlandgoed buite Wellington die bekendstelling van die studie ter voorkoming van fetale alkohol sindroom (FAS) bygewoon. Wellington is aangewys as gasheerdorp vir die FAS-studies. Die FAS Voorkomingstudie word deur die Nasionale Instituut van Gesondheid van die VSA befonds. Dié studie word aangepak in samewerking met die universiteite van Nieu-Mexiko (VSA), Stellenbosch en Kaapstad. Gemeenskapsorganisasies, die besigheidsektor, interkerklike leiers, skoolhoofde en opvoeders van Wellington se laerskole was verteenwoordig. Danie Nel van Welvisie, plaaslike welsynsorganisasie sê die samewerking tussen die welsynstrukture in die Wellington-gemeenskap en die kerk as die fasiliteerder is baie belangrik. Prof Soraya Seedat van die Universiteit van Stellenbosch, en medehoofnavorser van die FAS voorkomingstudie, sê ’n suksesvolle studie in ’n Amerikaans-Indiaanse gemeenskap kan effektief in die Suid Afrikaanse gemeenskappe toegepas word. Navorsing toon dat Suid-Afrika van die hoogste FAS- voorkoms- syfers in die wêreld het, sê prof Charles Parry van die Mediese Navorsingsraad. “Ons moet fokus op die landelike gemeenskappe wat soms verwaarloos word in die intervensieproses. “Om ’n impak te hê moet ons vennootskappe bou met die plaaslike skole, gesagsfigure, regeringsdepartemente en akademiese fasiliteite,” sê hy. Zelda Fortuin, een van die sprekers tydens die bekendstelling, sê die uitstekende prestasies van die individue binne die Wellington gemeenskap kan bydra tot die sukses van die studie. “FAS is 100% voorkombaar, maar as die moeder gedurende swangerskap alkohol gebruik is dit 100% onomkeerbaar,” sê sy.
More
News
|