Young Peoples behaal naelbytsege ná wipplankstryd
2008-06-19
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Constantia die eerste ronde van die Superliga B op ’n hoë noot afgesluit toe hulle die sterk span van Valsbaai met 34-33 verslaan het. Peoples het van die afskop af hul stempel afgedwing met harde hardlooprugby. Die Tiere het eerste bloed geruik toe die stut, Cheslyn Malherbe, die bal onderskep het om langs die pale te druk. Kort na Valsbaai geantwoord het met ’n drie, het Peoples se Dominique Daniels vanuit sy eie halfgebied gehardloop, ’n tikskoppie bemeester, en langs die pale gaan druk. Valsbaai het hierna gaan druk en ’n strafdoel behaal, maar Daniels het koelkop gebly en ’n strafdoel vanaf die middellyn oorgeklits om die spanne op 15-15 te laat rus. In die tweede helfte het Peoples en Valsbaai weereens wipplank gery. Peoples is telkemale in hul eie kwartgebied gestraf en het toegelaat dat Valsbaai in die wedstryd bly. Met sowat vyf minute se speeltyd oor, en die telling op 29-28, het die drama eers begin. Valsbaai het weer gaan druk, maar met twee minute oor moes Valsbaai net die bal vang en uitskop om te wen. Peoples se Francois Julies, het die bal van die afskop gewen en Delwayne Cornelissen, Manie Adams en Ben Martin het uitstekend gekombineer om aan Peoples ’n sege van 34-33 te verseker. Peoples se tweede span het met 13-10 gewen en die derde span het met 12-20 verloor.
More
News
|