DIE bekende Paarlse sakeman Anton Möller is verlede week aangewys as die Paarl Sakekamer se Sakeman van die Jaar.
Anton het sy onderneming, bekend as Décor Lighting & Décor Fires, in die Paarl geopen in 1979 toe hy 20 jaar oud was.
Die besigheid het met die jare met groot sukses uitgebrei en spesialiseer in dekoratiewe boumateriale soos ligte, sanitêre ware, teëls, verf, kaggels en braaiers.
Hulle bedien die Paarl en omgewing, maar staan ook bekend as ’n spesialisbesigheid in die hele Wes- en Suidwes-Kaap, met sommige produkte wat landwyd bemark word.
Anton is ook die eienaar en besturende direkteur van Molco Developments, wat spesialiseer in die ontwikkeling van luukse eiendomme in kusgebiede soos Hermanus, Knysna en Mosselbaai. Hulle het ook al 24 huise in Boschenmeer Golf & Country Estate ontwikkel.
Sy vrou Sophelien, mededirekteur Piet Dyason en sy oudste seun Stefan staan al vir jare aan sy sy in die besigheid, terwyl aldrie kinders in die eiendomsbedryf betrokke is.
Anton glo sy belangrikste bate is sy personeel - topkwaliteit mense wat van die onderneming ’n sukses maak.
Sy leuses “Die kliënt is altyd reg” en “Uitmuntende diens is meer belangrik as geld” word dag vir dag uitgeleef.
Hy is betrokke by verskillende welsynsorganisasies en het ook ’n groot aandeel gehad in die oprigting en bestuur van die Holland Educare in Paarl-Oos.
Kerkmusiek, bote, en ’n ronde gholf is die ander groot liefdes in sy lewe.
Hy is bekend as ’n uitsonderlike familieman en ’n vrygewige sakeman en glo dat alles wat hy bereik het, was met die genade en insig van Bo. Hy het die Paarlse publiek bedank vir hul getroue ondersteuning deur die jare: “Julle gewaardeerde ondersteujning is ons sukses!"