’n OUD-BOISHAAIER wat tans besig is met sy doktorale studies in teoretiese kernfisika aan die Universiteit Stellenbosch, Dawie van Niekerk, is op pad na die VSA nadat hy die gesogte Fulbright-beurs ontvang het.
Die Fulbright beursprogram is die VSA se vlagskip opvoedkundige beursskema waardeur internasionale studente ondersteun word om in Amerika navorsingswerk te doen of daar verder te studeer.
Danksy die beurs sal Dawie nege maande lank in die VSA kan studeer, waartydens hy onder meer die Universiteit van Indiana en Florida Staatsuniversiteit sal besoek.
Dawie sal in Augustus na die VSA vertrek, waar hy onder meer met kenners in sy veld soos prof Chuck Horowitz en prof Jorge Piekarewitz sal saamwerk.
Sy navorsing fokus op die beskrywing van kernstruktuur en kernreaksies binne ‘n relatiwistiese raamwerk. Dit is direk gekoppel aan eksperimentele werk wat by van die wêreld se voorste kernversnellersentrums gedoen word.
Sy PhD promotor, dr Brandon van der Ventel, van die Departement Fisika aan die US, sê Dawie behoort nou tot ‘n uitgelese groep. Die administrateurs van die Fulbright-beurse keur jaarliks slegs sowat 20 van Suid-Afrika se top studente.
“Hy besit al die nodige eienskappe om tot ‘n top fisikanavorser te ontwikkel,” vertel dr van der Ventel.
“Ek is baie trots op Dawie en die toekenning van hierdie beurs is beloning vir ‘n uitmuntende akademiese loopbaan.”
Dawie, wat in 2000 aan Boishaai gematrikuleer het, het tot dusver al sy voorgraadse- en nagraadse kwalifikasies met lof verwerf